Engela dra die laaste bokse motor toe. Haar herinneringe laat haar stilstaan. Sy neem die oomblik in, die wind streel saggies die trane weg. Die bure se seuntjie, Daniël, ruk haar terug aarde toe. Sy haal diep asem, laai die bokse vinnig in die motor en ry. In haar truspieëltjie sien sy; vir kleine Daniël speel met ‘n veer, ‘n vorige lewe en die eerste tekens van Jakarandas wat blom.
***
Gabriël Engelbrecht hou die skraal lyfie styf teen sy bors. Hy voel haar hart klop, wild van onsekerheid maar ritmies van liefde. Hy streel saggies oor haar blonde hare en soen haar op die voorkop. Sy kyk vraend op, sy potblou oë troebel van trane.
“En dit?”
“Ek is baie lief vir jou.”
“Was jy dan nie altyd nie?”
“Net ‘n bietjie meer as gister.”
***
“Mens kan nooit van jou probleme af weg vlug nie, al jaag jy teen 200 kilometer per uur.” Het hy altyd gesê. Sy gaan sy wysheid die meeste mis.
Hoe dit gebeur het dat hulle paaie so verby mekaar geloop het, weet sy nie. Dalk die werk? Miskien, maar mens het verantwoordlikhede! Die lewe? Vlou verskoning! Prioriteite? Definieer prioriteite? Sy comebacks was die beste. ‘n Migraine bekruip haar onverwags van agter wat haar in nood laat indraai by Caltex.
***
“Kan ek chips ook kry?”
“Jy kan kies, maar nie chocolates en chips nie.”
“Jy is lelik met my.”
“Liefde word nie gemeet in chips nie.”
***
Sy klim in die motor en ry huis toe. Sy begin nou gewoond raak om nie ‘n “Veilig tuis” boodskap te stuur nie. Sy laai die bokse af en maak ‘n koppie tee.
***
“Twee suikers asseblief.”
“Twee? Jy besef te veel suiker is nie goed vir jou nie.”
“Dit is net suiker, nie arseen nie.”
“Kan jou wel in ‘n vroeë graf laat rus!”
***
Sy gaan sit op sý stoel en maak die eerste boks oop. Een vir een pak sy
jare se geskiedenis in hopies. Sy verwerk goed beter as dit in orde is. Uit een van die boeke val ‘n koevert. Dit lees Engela. Haar hande bewe soos een wat moet getuig. Sy skeer die koevert oop, haar oë dwaal op die bladsy …
“Liewe Engela
Die dag toe jy in my lewe gesweef het , was seker die geseëndste dag in my lewe. Nooit het ek gedink Liewe Jesus sal sy engele so vrygewig uitdeel nie. Jy is my redding, jy laat my glo, jy inspireer my met elke glimlag en traan. Ek hoop ek kan vir jou dieselfde beteken.
Groete
Engel Gabriël”
Verward blaai sy deur die boeke. Daar is niks. Sy woorde, liefde of vertroosting het weg gevlieg. Haar lewe is nou ‘n swartgat. Gaan daar ‘n dag kom wat sy finaal van hom vergeet?
***
“Kan nie glo jy het my vergeet nie!”
“Jammer my engel. My vergadering het bietjie langer aangehou as wat ek verwag het.”
“Almal is al huis toe. Hoe kon jy? Wil jy my gesig op ‘n boksie melk sien?”
“Ek is regtig jammer. Dit sal nie weer gebeur nie. Belowe.”
***
Sy gaan staan by die venster. Haar trane gly saggies oor haar wange soos reën teen ‘n venster. Hy was die gelukkigste wanneer dit reën; “Spoel die aarde skoon van al ons sonde” het hy geglo. Sy tel sý Bybel van die “gelowige” hopie op, neem dit kamer toe en klim in die bed. Die huis is stil. Buite is dit net die wind wat sing. Sy maak die Bybel oop.
“Liewe Engela
Die hemelse vader is ‘n God van liefde. Ek is baie lief vir jou, al word jy soms kwaad vir my.
Groete
Engel Gabriël”
Die woorde maak haar naar van die hartseer.
***
“Ek voel nie vandag baie lekker nie. Kan ek by die huis bly?”
“Ek sê jou wat, ek bel ook siek in werk toe en dan gaan eet ons roomys op die strand.”
“Kan ek ‘n Flake in myne kry?”
“Jy kan twee Flakes kry.”
***
Sy kan nou nog nie glo dat sy nie die tekens gesien het nie. Hy was nog altyd sterk en trots, nooit erken of laat blyk dat daar is fout nie. Die dokter het haar per ongeluk gebel. Hy het selfs dit ontken en het gesê dit was ‘n verkeerde nommer. Sy het hom geglo. Na al die jare het sy nie in hom getwyfel nie, behalwe nou. Sy staan op en gaan maak nog ‘n koppie tee. Sy dwaal soos ‘n verlore engel in die heelal rond.
Net toe gaan die voordeur oop en sy val terug aarde toe.
“Naand Engel, jammer ek is laat.”
“Ek is net so bly jy is tuis.”
“Jy die huis ontruim vandag?”
“Ja. Die wolke is nou leeg en die hemel lê in hopies op die mat.”