Hulle sê jy word gemeet aan jou vriende, maar wat as daardie vriendskap gebaseer is op brandewyn? Jy bestel onmiddellik ‘n dubbel. Maar voor jy dink: “Gerhard, meng jou met die semels dan vreet die varke jou op,” laat ek verduidelik.
Vir my, kry mens vriende wat daar is deur dik en dun en dan kry jy ‘n vriendskap wat jou hart smelt soos kaas op ‘n braaibroodjie. So ‘n vriend is gewoonlik so skaars soos ‘n Karlien van Jaarsveld CD in my kar. Maar wanneer jy so ‘n vriendskap vind, bewaar jy dit diep in jou hart.
Liewe Jesus het vir my op ‘n Saterdag in Maart een so ‘n vriendjie gestuur. Dit was bloedig warm en al wat die dors kon les was ‘n ou brandewyntjie. Hy was laat en al wat my tot en met vandag bybly is sy Diesel hemp (wat my laat wonder het oor die semels-gesegde) en die feit dat hy onophoudelik gepraat het. Maar ons het al voorheen ontmoet; hy was 4 of 5 en ek 9 of 10. Ons pa’s het saam ‘n visvangtrip Klein Kariba toe beplan. Ek het net vinning gegroet en onder my bed gaan wegkruip. Dis die dat hy tot vandag net ons St Bernard kan onthou.
Maar op daardie bloedige dag in Kaapstad het ek geweet dat ek nie net ‘n vriend ryker geword nie, maar wel iets meer kosbaar as die eerste perfekte pannekoek – ‘n broer. Iemand op wie jy kan staatmaak en vertrou; al is hy soms laat. Iemand met integriteit en geloof. In kort, ‘n kerkmens. Maar ook een wie se kattekwaad enige vuur sal laat smeul.
Ons is deur baie in die afgelope 8 jaar: blydskap, hartseer, woede, avonture, Woollies se malva-poeding. Maar vir ‘n meer kosbare broer kon ek nie gevra het nie.
Vir my is Pierré Jacobs se vriendskap meer as net ‘n hoofstuk in ‘n boek; dit is iets wat ervaar en bewaar moet word. Sy menswaardigheid en nederigheid strek so ver soos ‘n grondpad in die Karoo. Hy het ‘n hart van platinum en sy huis en hart was nog altyd oop vir my; met of sonder ‘n wing. Nie net is sy vriendskap vir my so vertroostend soos reën op ‘n sinkdak nie, maar dit is ‘n voorbeeld van hoe ons as mense mekaar moet koester.
Ek is innig dankbaar vir die voorbeeld wat hy stel; soet of stout. Dankbaar dat hy sonder oordeel (okay, soms met ‘n opinie en ‘n geligte wenkbrou) my toelaat om net te wéés. Hy het hy my geleer om die oomblik in te neem, want ons kan later post. Verder leer hy my elke dag dat die lewe ‘n song is wat kliphard gespeel moet word.
Buiten dit alles bly hy vir my my brother-from-another-mother. Laat ons dit tog nou vir eens en altyd in die mense se koppe kry. Want broederskap is soveel meer kosbaar as enige iets anders.
