Branders wat geheime fluister

Elke Desember kamp ons in Margate! Freakin Margate! Beter as Wawiel Park of Aliwal Noord maar steeds … Margate?!? Bly nie soos die res van die beskawing in ‘n hotel nie, NEE ons freakin kamp soos mense wat net Bake Beans en Sardines kan bekostig.

Die ding is, ons kan ongelukkig nooit ‘n behoorlike Kersfees-See-Vakansie beplan nie. Dit is plant tyd, Pappa se besigste tyd van die jaar. Elke jaar waarsku hy dat ons by die huis moet geskenkies uit deel en dan twee dae voor Kersfees pak hy die Mercedes en vreet ons tamatie en uie broodjies tot anderkant Bethlehem .

Ek en Ma aan die ander kant haat kamp! Ons haat die koue, tekort aan ‘n haardroeër, stort met jou plakkies aan. Dis ongerieflik en dit mag dalk snaaks en opwindend wees op 6 maar op 16 lol die ietwat met my sosiale status. As enigste erfgenaam mag ek darem elke jaar ‘n maaitjie saam sleep maar die jaar is anders … Pappa het te lank gewag met sy verrassing en nou tan al my vriendinne op Stilbaai.

Op Vrydag die twee-en-twintigste Desember kondig Pappa aan “Ons val môre oggend vier uur in die pad.” Ons toebroodjies maak dit nie eers twintig kilometer buite die dorp nie. Ons stop buite Kroonstad vir ‘n Wimpy ontbyt. Agt ure later ry ons die Kampterrein binne. Al die mense vier al fees. By die hek groet oom Willem vriendelik en skerts dat Pappa hom sal moet begin betaal omdat hy ons “hawe” jaarlik moet reserveer vir die wis en die onwis. Ons staanplek het Pappa en Mamma al jare gelede “die hemel se hawe” gedoop omdat dit die enigste plek is waar mens die see kan sien vanuit jou slaapsak.

Pappa het nie eers die kar behoorlik tot stilstand gebring nie toe sak die hele kolonie op ons toe. Bekendes, nuwes, oues, jonges, lelikes, mooies. Sommige help afdra, ander help tent opslaan, die res dra braaivleis, knoffelbroodjies en Coke aan. Almal is net te bly om ons te sien. Uit die hoek van my oog gewaar ek ‘n nuwe gesiggie wat fliks vir Pappa help om die tent op te slaan. Hy is blond. Sy lyf goudbruin geseën deur die son. ‘n Held wat enige seerower sal laat sneuwel. Agter hom trippel daar ‘n stertjie wat gerus ‘n paar ekstra tasse kan dra om meer oefening te kry. Hy is kort, dik en spierwit.

Die volgende dag sien ek die twee op die strand. Mamma is winkels toe en Pappa , oom Willem en oom Patrys hengel naby die rotse. Ek gaan koop vir my ‘n draairoomys met ‘n Flake en gaan parkeer my tussen ‘n verspoelde sandkasteel en ‘n tannie in ‘n geel bikini. Net toe ek my Danielle Steele boek wil oopslaan op bladsy een skyf daar ‘n skadu oor my boek, my lewe en my hart. Ek kyk op. Reg binne twee saffierblou ogies vas. Oë wat lyk asof engeltjies wawiele maak.

“Vir wat lees so mooi meisiekind sulke snert?” sy oë verander sy gees onmiddelik van wawiel engele na ‘n malgat wat jou trek na die duiwel se vurk. Hy is ‘n doos. Ek ignoreer hom en fokus weer op my boek.

“MEISIEKIND! Ek praat met jou! Het die snert jou brein reeds so bevark dat jy nie eers kan praat nie? Koggelkoppie?” sy gees smeul saam met die ander demone. Ek bly tjoepstil. Nie eers een donnerse engel in sy oog sal hom ooit kan red nie. Die vette langs hom tik hom op die skouer en wys hulle moet iemand anders gaan terg.

Daardie aand braai almal saam. Ek en Ma maak slaai en brand kersies om die muskiete weg te hou. Tannie Hettie kom klop en vra of ek nie vir Stefan en Dirk kan gaan roep nie. Ek en Ma kyk haar aan soos twee wie se vlakoek tweede prys gekry het by die skou. Sy vererg haar bietjie en Ma bied aan om die klonge te roep. Toe sy met hulle by daardie tafel opdaag wil ek slange vang. Stefan is die blonde held met die siel van die hel. Dirk is die vette wat lyk soos ‘n sneeuman wat verdwaal het.

“Goeie naa-aand Lil-laa, he-et jjy le-kkk-er gel-l-l-ees?” Dirk sit aan my linker kant en Satan aan my regter kant.

“Moenie eers probeer nie Dirkie. Meisies soos sy se tong kry jy net op een manier los. Hulle is soos pa se ooie, hulle blêr slegs op pad slagpale toe.” Ek wens oom Patrys en Pappa het gehoor. Hulle sal hom lag lag as aas kan gebruik. Daardie aand bid ek dat Liewe Jesus vir Stefan aan ‘n haai voorstel volgende keer wanneer hy gaan surf.

Vir die volgende twee dae vermy ek die broers.

Die laaste aand, braai almal weer saam. Tannie Hettie en Mamma maak paptert van alles wat oor is in die koelhouer en Pappa en oom Patrys braai van die laaste tjoppies, so dat daar plek is vir die vis. Ek gaan groet die see, tel skulpe op vir ma se gastebadkamer en kry seewater vir Aliena en Thomas. Terwyl ek terug stap sien ek vir Dirk wat roerloos na ‘n brander staar. Ek tik hom op sy skouer. Sy grasgroen oë is vol pêrels. Hy weier om my in die oë te kyk. Hy begin mompel …

“Hhhhy wwwou jjou ssse-e-e-ee-r m-mmaaak v-v-va-n-n-aaand sss-so dat jjy kaaan p-ppraaat. Hh-hul-le saaal ho-om nn-nie kk-k-kry nie. Hhh-hy sssl-laap sss-saaaam d-ddie vvvv-vissss-ies. Nie-mmm-mand w-w-weeet h-hy kkkk-aaa-nie swww-wem nie o-of da-at e-ek kaa-aan surf nie.”

Ons is nooit weer terug na “die hemel se hawe” nie. Ek weet nie wat van Dirk geword het en of oom Patrys ooit weer op rotse sal kan hengel nie. Pappa beplan nou beter, volgende jaar gaan ons Duitsland toe vir Kersfees. En snags as ek saggies bid vir Dirkie, wonder ek of dit nie maar beter is om stom te bly speel nie.

IMG_20161020_070241

Beste Blommie,

Hier waar ek kweek tussen Agapanthus en lelies weerklink daar iets binne my wat ek nie kan beskryf nie …‘n leemte …

Verstaan asseblief mooi, ek skryf nie hierdie brief om jou hart terug te wen nie. Ek skryf hierdie brief omdat ek glo jy moet weet dat ek jou vriendskap mis, weet dat jy ‘n geskenk van bo is en weet dat ek jammer is.

Kom ons begin by laasgenoende … ek is jammer. Jammer dat ek ‘n potensiële vriendskap soos onkruid vernietig het. Verstaan mooi, dit het my sewe jaar geneem om my lewenstuin te plant. Te plant met selfvertroue, aanvaarding en eerlikheid. En net toe ek alles mooi rangskik het, toe plonks jy pens en pootjies in my tuin en spit alles deurmekaar. Ek gaan nie te diep hier grawe nie, maar wat ek eintlik wil sê; jy het meer as wat jy besef, steggies in my lewe geplant. Steggies soos; om meer te gee as om te ontvang, reëls te laat vaar en om nie jaloers te wees op mense nie. Dankie daarvoor, ek gee dit nou elke dag water.

Tweedens, Liewe Jesus het voorwaarlik die grootste geskenk, tyd saam met jou, aan my geleen en ek weet al die ander mense in jou lewe glo dit ook. Jy is soos die eerste bloeisel in lente. Om te dink dat hierdie wêreld jou elke dag beleef is so vertroostend soos reën tydens ‘n droogte. En dit was ook ‘n rede vir my reëls en jaloesie, ek wou jou myne hou vir solank as wat ek kon. En die vrees dat ek jou kan verloor, dit wat ek probeer vermy het, het toe gebeur …

Laastens, ek mis jou. Ek mis die random kuiers wat restaurante toemaak, onbeplande avonture en jou smile by Artscape. Ek vra nie hier vir ‘n tuin van Eden nie, ek respekteer jou afwesigheid en die manier waarop jy hierdie situasie benader, maar wanneer jy eendag reg is om weer in my tuin in te stap, sal ek vrywillig die hekkie oop los …

Tot die son opkom.

Gesiggie