Foto: Jean-Mari Jacobs
Stilering: Minnelie Minnaar
Konsep: Gerhard Claassens

Vriende is engele op aarde

Ek het al baie oor Irma Albers geskryf, gewoonlik net op haar verjaarsdag, maar hierdie formidabele engel wat leef op haar eie ritme, wat inspireer met haar liefde en drukkies, het my onlangs geleer dat jou waarde nie lê in ‘n leer wat jy klim nie; jou waarde lê in die vrede wat jy in jou hart koester.

In haar teenwoordigheid is daar drie bronne energie wat jou omvou: 1. Liefde 2. Vrede en 3. Kreatiwiteit. Dit omvou jou soos ‘n kombers in winter. Snoesig, salig en beskermend. Dit neem jou na plekke waar jy nog in die mensdom en feetjies glo. Waar jou hart sag kan rus op die ritme van haar asemhaling.

Op ‘n Woensdag, 9 jaar gelede, het sy in my lewe ingesweef. Haar rug was na my gedraai. Ek was huiwerig om myself voor te stel; sy was saam met een of ander minister. Maar Jean-Mari het bly aanmoedig: “Jy moet haar ontmoet!” En klokslag het my lewe verander. Soos ‘n bloeisel wat bot in die lente het sy haar plek in my lewe gevind.

Ons tweede ontmoeting was by Oude Libertas; sy het my genooi vir ‘n koppie tee. Met die intrapslag is ek gegroet met ‘n drukkie. Op een of ander manier het die gesprek na my ideale werk gedraai. Sonder om te aarsel, het ek gesê: “Ek wil Oude Libertas se Creative Director wees. Om met brands saam te span en inisiatiewe te loots met die kunste.” Met ‘n sagte stem het sy geantwoord: “Nou skryf die job description”. Ek het, en dit gefile op my PC, maar nooit aangestuur nie. So het die droom soos gras in die somer verdor.

Na die ontmoeting het ek elke denkbare manier gevind om in haar teenwoordigheid te wees. Ek het probeer om saam met haar te werk om net ‘n stukkie hemel te beleef. En toe in 2016 word dit ‘n werklikheid. Vir vier maande het ons aan mekaar gekleef; hierdie sou die fondasie vorm van ‘n vriendskap so sterk soos ‘n herfswind.

Sedert sy Distell verlaat het, het haar lewe wye draaie geloop. Sy is getoets (op verskeie maniere) maar het staande gebly. Onlangs sit ons op ‘n stoep met ‘n wyntjie. Ek kla en sy troos; sy huil en ek vertel ‘n grappie. Ons begin gesels oor hoe die samelewing die pad byster geraak het; waar een persoon se ego ‘n ander se gemoed regeer, waar niemand mekaar ‘n plekkie in die son gun nie. Al val daar ‘n boom in jou pad moet jy maar oorklim en aangaan.

“Gertjie, al waarop ons werklik kan vertrou is ons interne kompas. Ons moet die mens wees wat ons van ander verwag om te wees; elke uitdaging evalueer teen die waardes waarvoor ons staan en ons moenie toelaat dat ander ons definieer nie. Jou waarde lê in die vrede wat jy in jou hart dra, en al is dit soms moeilik om staande te bly, moet jy vertrou op jou kompas.”

Soos ek elke woord herkou, verkyk ek my aan haar. Verstom deur die waarheid besef ek meteens: Vriende is engele op aarde.