20160717_131400

Want drome is soos vlinders, Skat!

Iewers in my lewe het ek die volgende raakgelees: “As jy nog nie geskrik het vir jou drome nie, het jy nog nie groot genoeg gedroom nie.” So wat beteken dit? Moet mens nou permanent in ‘n eier van vrees leef?

In 2000, was my droom om Suid Afrika se volgende Christian Dior te wees, maar tydens ‘n ATKV – winterskool, het my drome in ‘n wurm verander namate ek oorweldig was met ander se talent. In 2008 was die droom om troues te koördineer. Die wurm het groter geword toe elke tweede siel in die Kaap troues begin beplan. So bevind ek my op Saterdag 24 Augustus by die Baxter Teater; elke vyfde mens wens my voorspoed toe met my nuwe avontuur. Tydens die vertoning tref dit my weer: al die talent daarbuite; het die wêreld my stories nodig? Ek deel my vraag met Tracey Saunders. Sy kyk my stip in die oë, glimlag en sê: “Yes, Gerhard. Everyone has their unique voice and story and it should be heard.” Wat my onmiddellik herinner aan ‘n aanhaling deur Martha Graham wat ek al te graag in toesprake gebruik.

“There is a vitality, a life force, an energy, a quickening that is translated through you into action, and because there is only one of you in all of time, this expression is unique. And if you block it, it will never exist through any other medium and it will be lost. The world will not have it. It is not your business to determine how good it is, nor how valuable, nor how it compares with other expressions. It is your business to keep it yours, clearly and directly, to keep the channel open. You do not even have to believe in yourself or your work. You have to keep yourself open and aware to the urges that motivate you. Keep the channel open… No artist is pleased. [There is] no satisfaction whatever at any time. There is only a queer divine dissatisfaction, a blessed unrest that keeps us marching and makes us more alive than the others.”

Om jouself te omvou in ‘n koekon van onsekerheid is normaal (so word ek vertel), solank dit gepaard gaan met positiewe denke en gewoonlik ‘n “vision board”. Die heelal moet weet jy glo ook in jou drome. Elizabeth Gilbert skryf weer in Big Magic: “Do whatever brings you to life. Follow your own fascinations, obsessions, and compulsions. Trust them. Create whatever causes a revolution in your heart.”

So, terwyl die revolusie in my gemoed broei, weet ek dat die papie in een ma-moese skoenlapper sal verander. Ek glo so. Ek wéét so. Want drome is soos vlinders, Skat! Hulle is mooi en oulik, maar dit neem ‘n tydjie voor hulle vlieg.

Om die droom vlerke te gee, besoek asseblief https://www.thundafund.com/project/woordeskat en ondersteun deur een van die volgende 4 opsies:

1. Dankie: Vir ‘n donasie van R150 sal jou naam verskyn in die dankielys.
2. Getekende boek: Vir ‘n donasie van R250 sal jy ‘n getekende kopie van my boek kry.
3. Getekende boek en afdruk van kunswerk: Vir ‘n donasie van R500 sal jy ‘n getekende kopie asook een van tien afdrukke van Jean Mari Jacobs se Woorde, Skat skildery ontvang.
4. Getekende boek en oorspronklike kunswerk: As jy ‘n donasie van R2000 maak, sal jy ‘n getekende kopie asook die oorspronklike Woorde, Skat skildery bekom.

Lizelle Torr. Drywer van drome.
Link

Omring jouself met dié wat drome weef, Skat!

Die gesprek het so begin: “Ek wil jou stories publiseer.” Die reaksie: “Hoekom?” Sy staar na my soos een wie se roomys geval het. “Want jy is awesomeness wrapped in rainbows.” En so skop twee jaar se slakkepas af.

Lizelle was nog altyd een van daardie wesens wat nooit nee vir ‘n antwoord vat nie. Sy is ‘n vrye gees wat graag ‘n avontuur aandurf met ‘n sak vol geloof. Sy kyk verby die onmoontlike, en laat liefde agter, soos Hansie en Grietjie se broodkrummels. Sy is die meesterbrein agter hierdie projek, maar meer as dit, sy bly ‘n engel wat geduldig ondersteun.

Vinnig-vinnig het die droomwewers gegroei: Surina, Jean-Mari en Mareza. Elkeen met ‘n magdom talent wat stene op die fondasie bou.

Te danke aan Surina het die boek ‘n omslag ryker geword. Surina is een van daardie engele wat kreatiwiteit haar huis noem, maar steeds ‘n voltydse ma en vrou is. Sy is soos die sagte klanke van ‘n viool: troostend, rustig, en wat jou laat reis na wêrelde waar drome nederig bid.

Alhoewel dit oortuiging geneem het, het Jean-Mari ingestem om ‘n kunswerk te skilder vir die binneblaaie. Op daardie stadium het ons al 4 jaar gepraat oor die kunswerk – maar Jean-Mari, net soos haar drukkies, het die projek omvou met liefde.

As dit nie vir Mareza was nie, sou die hele wêreld lag vir my spelling en grammatika. Sy is die een wat glo en aanmoedig, die een wat geduldig my versoeke entertain, basies die Coke in my brandewyn. Nie net kan sy vir jou binne drie sekondes foute uitlig nie, sy doen so met die gemoed van ‘n moeder.

Dan is daar die huidige en toekomstige droombeleggers; elkeen wat aanmoedig en ondersteun. Wat glo wanneer ek twyfel, wat MCC skink om elke bydrae te vier, en wat die droom saam met my weef.

Vir meer inligting, besoek asseblief https://www.thundafund.com/project/woordeskat en deel in die vreugde op sosiale media …

Facebook: https://www.facebook.com/gerhard.claassens
Instagram: https://www.instagram.com/prins_pierewiet/

Woorde, skat

 

Doer in die Vrystaat, tussen mielielande en die maan, was daar ‘n pippernimpie wie se eerste woord Ultra Mel was. Alhoewel sy liefde vir woorde eers later sou bot, soos bloeisels in die lente, het hy ‘n wegkruipplek gevind in die wonder van woorde.

My naam is Gerhard Claassens en ek is ‘n storieverteller. Let wel, ek ag myself as geen Tolla van der Merwe of Nataniël nie, maar ek glo stories is ons enigste nalatenskap om mekaar te onthou. Stories inspireer nie net nie; dit leer jou soms ‘n les.

As baba het ek letters geklank om my liefde vir Ultra Mel te beskryf. As kleuter het ek met woorde gesmokkel om my sin te kry. As tiener het ek sinne gestring om te ontvlug na my eie wêreld. As student het ek paragrawe geskryf om my liefde vir brandewyn te regverdig. As volwassene voeg ek elke dag nog ‘n hoofstuk by tot my lewe.

Nooit het ek myself as ‘n skrywer geag nie; skryf was bloot ‘n vorm van terapie. En toe in 2013, te danke aan Alison Bradley, word ek bekendgestel aan Riana Scheepers. Om die waarheid te sê, ek het nie geweet wie Riana Scheepers is nie, maar op 7 Oktober 2013 het my hele wêreld verander. Tussen ‘n skare van 10 is my verbeelding oopgevlek met literatuur, musiek en wyn. En daar in die holte van ‘n kelder het ‘n geloof begin fermenteer dat woorde genesing bring. Ons is ook geleer dat om te publiseer nie noodwendig die doel is nie en dat dit in enige vorm kan voorkom, selfs op die agterkant van ‘n sjampoebottel. My keuse was om, soos almal, te blog.

In 2017 het alles verander. Tussen die wynlande, oor ‘n merkwaardige glas Sauvignon Blanc, het Lizelle Torr my verras met die idee om my stories vir my verjaarsdag te publiseer. Aanvanklik sou dit net een boek wees, maar Lizelle dink gewoonlik groter as die meeste van ons en dus praat ons nou van 100. So is die veldtog van stapel gestuur. Dit het wel 3 jaar geneem voor ek my eendjies in ‘n ry sou kry.

En hier staan ons nou, met stories in die sak, reg om dit met die wêreld te deel. En ons het julle hulp nodig, want wie gaan nou vir ‘n uitgewer wag? Ek is immers geleer dat as jy te lank wag, val jou drome vinnig-vinnig soos meel deur ‘n sif.

Alle drome het engele nodig, so vir meer inligting, besoek asseblief die befondsing veltog op https://www.thundafund.com/project/woordeskat en deel in die vreugde op sosiale media …

Facebook: https://www.facebook.com/gerhard.claassens
Instagram: https://www.instagram.com/prins_pierewiet/