Woorde, skat

 

Doer in die Vrystaat, tussen mielielande en die maan, was daar ‘n pippernimpie wie se eerste woord Ultra Mel was. Alhoewel sy liefde vir woorde eers later sou bot, soos bloeisels in die lente, het hy ‘n wegkruipplek gevind in die wonder van woorde.

My naam is Gerhard Claassens en ek is ‘n storieverteller. Let wel, ek ag myself as geen Tolla van der Merwe of Nataniël nie, maar ek glo stories is ons enigste nalatenskap om mekaar te onthou. Stories inspireer nie net nie; dit leer jou soms ‘n les.

As baba het ek letters geklank om my liefde vir Ultra Mel te beskryf. As kleuter het ek met woorde gesmokkel om my sin te kry. As tiener het ek sinne gestring om te ontvlug na my eie wêreld. As student het ek paragrawe geskryf om my liefde vir brandewyn te regverdig. As volwassene voeg ek elke dag nog ‘n hoofstuk by tot my lewe.

Nooit het ek myself as ‘n skrywer geag nie; skryf was bloot ‘n vorm van terapie. En toe in 2013, te danke aan Alison Bradley, word ek bekendgestel aan Riana Scheepers. Om die waarheid te sê, ek het nie geweet wie Riana Scheepers is nie, maar op 7 Oktober 2013 het my hele wêreld verander. Tussen ‘n skare van 10 is my verbeelding oopgevlek met literatuur, musiek en wyn. En daar in die holte van ‘n kelder het ‘n geloof begin fermenteer dat woorde genesing bring. Ons is ook geleer dat om te publiseer nie noodwendig die doel is nie en dat dit in enige vorm kan voorkom, selfs op die agterkant van ‘n sjampoebottel. My keuse was om, soos almal, te blog.

In 2017 het alles verander. Tussen die wynlande, oor ‘n merkwaardige glas Sauvignon Blanc, het Lizelle Torr my verras met die idee om my stories vir my verjaarsdag te publiseer. Aanvanklik sou dit net een boek wees, maar Lizelle dink gewoonlik groter as die meeste van ons en dus praat ons nou van 100. So is die veldtog van stapel gestuur. Dit het wel 3 jaar geneem voor ek my eendjies in ‘n ry sou kry.

En hier staan ons nou, met stories in die sak, reg om dit met die wêreld te deel. En ons het julle hulp nodig, want wie gaan nou vir ‘n uitgewer wag? Ek is immers geleer dat as jy te lank wag, val jou drome vinnig-vinnig soos meel deur ‘n sif.

Alle drome het engele nodig, so vir meer inligting, besoek asseblief die befondsing veltog op https://www.thundafund.com/project/woordeskat en deel in die vreugde op sosiale media …

Facebook: https://www.facebook.com/gerhard.claassens
Instagram: https://www.instagram.com/prins_pierewiet/

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>