‘n Lewe na Corona

Ek staan in ‘n ry, 1.5 meter van ‘n tannie met ‘n masker, handskoene, 2 pakke toiletpapier en 12 blikkies tuna. Die hele ry is soos ‘n scene uit Lucky Luke behalwe, die skurke is nou tannies en in plaas van ‘n serpie om die mond en ‘n pistool in die hand, staan die tannies met maskers en toiletpapier.

Nou kyk mens maak nie ‘n grap van ‘n wêreld-epidemie nie, maar mens moet ook kan lag met ‘n traan. Maar soos ek staan, wonder ek wat hulle met die toiletpapier gaan maak na die epidemie? Dalk paper mache Baked Beans as die rakke leegloop?

Maar soos ek self uitstap met 18 rolle, dink ek wat gaan na die epidemie gebeur. Almal skryf en deel tans oulike goedjies oor hoe die aardbol nou kan rus, hoe ons emosioneel nader aan mekaar moet begin leef en dan is daar die odd quote wat sê dit is tyd vir self-refleksie? Maar wie het tyd? Nou meer as ooit het ons meer skottelgoed omdat ons nou tyd het om twee bakkies spaghetti te eet in plaas van een. Almal is nou tuis, so die wasgoed is meer as ooit.

Maar daar lê waarde in self-refleksie en ondersoek. Die enigste probleem is as jy soos ek vir jare al die tools, boeke en meditasie tapes het en dit nooit gebruik of geluister het nie. Wat gaan jou nou inspireer as jy eerder kan laat slaap en Netflix kyk? Maar die antwoord is eenvoudig: Gerhard, maak tyd!

Ek maak toe tyd, maar wonder is dit dalk nie te laat vir refleksie of om my purpose te vind nie? Dit het by my gespook soos die pakkie Smarties in my kas wat ek gekoop het vir as ons uit Smarties hardloop. Dit is toe dat ek besluit het, ons kan nie meer wag vir Maandag om te begin nie. Nou is die tyd. Ek het my boeke afgestof en begin lees en mediteer.

Maar wat as ons weer vrygelaat word om in die strate te flankeer? Gaan ons terugkeur na ou gewoontes of gaan ons voortbou op innerlike vreugde? Is 21 dae immers genoeg om sorted te wees en terug te keer na die samelewing? Wel, meeste sê dit neem 21 dae om ‘n goeie gewoonte aan te leer; en alhoewel ons hopelik nog net 10 dae oor het, hoop ek dit is genoeg tyd om aksie te neem.