GEVAARtekens!

Daar is iets meer gevaarlik as ‘n padpatrollie-kaptein met ‘n fluitjie … en dit is ‘n werksdagboek wat lyk soos spitsverkeer in Johannesburg.

Marathon-vergaderings, e-posse een uur die oggend, Excel spread sheets wat 20 keer oorgedoen word, alles epidemies wat nie net veroorsaak dat jy vergeet om te piepie nie, maar wat jou in ‘n RAG (Robot: Rooi, Geel, Groen) verander.

En ja, van kleins af word ons geleer om te beplan, georden te lewe, of my grootste frustrasie – BALANS te handhaaf! Maar tye het verander, verwagtinge is so alledaags soos om ‘n rooi lig te vermy. Wat die volgende vrae in jou kop laat parkeer: Is dit die moeite werd? Wie stel die maatstaf? So, is dít die rede vir lewensversekering?

Hoe het dit gebeur dat ons lewe bestuur word deur ‘n kalender? Menige blameer die seisoen van ons tyd, die druk om te presteer of die vereistes van die korporatiewe padkaart. Die ergste is dat die gevaartekens skuil en dan eendag soos ‘n Speed Cop agter ‘n bos uitspring en die boete dalk jou lewe is.

Ek het kollegas wat elke keer as jy vra; “Hoe gaan dit?” jou vertel hoe besig hulle is, en dan verbaas is as jy sê; “Ek vra hoe gaan dit met jou, nie jou dagboek nie”. Selfs op Tinder sal die antwoord lees: “Ek werk in …” as jy vra; “Wat doen jy vir ‘n lewe?” Is ‘n lewe dan gelyk aan ‘n werk? Of is dit soos wat Victor E Frankl in Man’s searching for Meaning getuig: “He who has a why to live, can bear almost any how”. Hy verduidelik dat die WHY bestaan uit: 1. Om iets te doen wat jou geluk verskaf en 2. Om iemand of iets lief te hê. Elkeen ‘n waarheid, maar so uitdagend sóós parallel-parkering.

Pinterest quotes sal graag sê; “It is the journey and not the destination that matters most!” en miskien is dit tyd dat jy in jou blindekol begin kyk, want daar mag dalk iets wees wat jou bekruip en jou jou OUTbonus gaan kos.

So, hoe identifiseer jy die gevaartekens, dié wat Daantjie Kat ons nie van geleer het nie? My antwoord – beste is om dit nie te verontagsaam nie; ‘n stopstraat is immers daar vir ‘n rede. En maak nie saak in watter vorm, tyd of haas die stopstraat verskyn nie, STOP. Haal asem, kyk links, regs en weer links, en ry aan of sit ‘n flikkerlig aan en kies ‘n ander pad.