Oude Libertas

Liefdesengele van Oude Libertas

Daar is ‘n lappie grond, in die hartjie van ‘n Liefdesbosch, omring deur vrede en kultuur. Waar mens pens-en-pootjies in die hemel land.

In 2010 sweef my skaduwee, as besoeker, deur die poorte van hierdie hemel en word weggevoer na ‘n wolk van verbeelding en onvoorwaarlike liefde. Dit sou wel ses jaar duur voor die stukkie hemel my permanente tuiste word en besef; dit is slegs hemel as jy omring word deur engele.

En hier vind jy ‘n skare engele. Engele wie se vlerke jou vreugde vier met ‘n drukkie, wat glo ‘n koppie tee kan enige traan opdroog, wat liefde uitdeel sóós Gideons-Bybels. Wat nie net waak oor jou nie, maar eerste wees wat sê: “Gertjie, jy word nou lekker vet. Sit neer die koekie.”

Elkeen afkomstig van die omgewing, met ‘n doktorsgraad in die lewe. Hulle lewensverhale inspireer nie net nie, maar omvou jou geloof in die mensdom. ‘n Geloof geseël met liefde.

Dit is alles waar! Dit is alles daar! Waar jou gees, tussen hulle, sorgvry baljaar! Doen jouself ‘n guns; gaan sit onder een van die eikebome, sluit jou oë en laat hulle liefde die wind onder jou vlerke wees.