Verlore Skapies

Hulle is tien aan tafel. Drie ouer as veertien, die res nie ‘n dag ouer as ses nie. Maar dit is Tia se dag. Die hele gemeenskap, kleutertuin en drie verlore skapies; Karla, Lila en ‘n mooi vreemdeling is teenwoordig vir troukoek.

“Regtig? Die kindertafel? Vir die rekord as ek vanaand net ‘n worsbroodjie en kaaskrulle kry vat ek my La Creuset ketel terug. Sy sal haar wat verbeel, my in ‘n hoek sit.” Lila is boos want 1. Sy sit in ‘n Gert Johan Coetzee aandrok by ‘n kindertafel en 2. Sy sit by ‘n kindertafel.

“Ek is seker ons sal tenminste roomys ook kry.” Die vreemdeling se poging tot ‘n grappie word sleg ontvang en Lila draai haar rug op hom.

“Nog Appeltizer?” vra Karla.

“Maak my glas vol. Dink jy sy was aspris? Sy was nog nooit mal oor jou nie.” vra Lila

“Ook nie vreeslik geheg aan jou nie, Lila. Van die dag wat Wikus jou by jool gesoen het.”

“Technicality, Karla!”

“Dit is omdat ons nog nie getroud is nie.” antwoord die vreemdeling vanuit sy verbande hoekie terwyl een kleuter om sy das swaai en ‘n ander hom met Zoo Cookies gooi.

“Bog man, Susan en Herman is nie getroud nie en hulle sit by Lize se tafel.”

“Hulle is verloof.” bevestig die vreemdeling.

“Wil jy vir my sê ons is verban tot die hoekie van inkleur kryte omdat ons nie in ‘n verhouding is nie. Dit is diskriminasie!” sê Lila boos.

“Nee dit is ons realiteit.” tart die vreemdeling vir Lila en verklaar oorlog teenoor die kleuter met die koekies. Hy skiet nou terug met Smarties.

“Hoe durf TIA! Ek ondersteun my hele lewe nog al haar mylpale. Opgewonde saam gewag dat Wikus haar moet raaksien op kampus, in spanning gewag dat hy haar moet vra om te trou, opgewonde haar kombuistee bygewoon. Dit alles en ek is nie eers ‘n strooimeisie nie en ek sit by die kindertafel? Fok haar!”

“So dit is eindlik jou issue? Jy is ongelukkig omdat jy nie soos ‘n lammetjie agter mamma aan huppel nie?” hy daag Lila uit soos ‘n skaaphond.

“Freud! Bepaal jou by jou eie Astro geveg. Karla, kom ons gaan kry iets sterkers om te drink.”

Die oomblik toe Lila deur die saal beweeg is dit asof almal in haar skadu weg smelt. Sy skitter vanaand soos ‘n verloofring. Haar rok, lipstiffie en houding is haarfyn beplan. By die kroeg bestel sy ‘n bottel franse shampanje.

“Jammer tannie, hier is net JC Le Roux?” sê die sewentien jarige agter die kroeg.

“Tannie! Wie is jou tannie?” weergalm haar stem.

“Jammer, tannie … ek bedoel mevrou.”

“Ek is nie jou tannie nie. Nog minder ‘n mevrou. Lyk dit of ek getroud is? Of ek deur ‘n man gedefinieër moet word?”

Die seun agter die kroeg is so witgeskrik soos wol. Susan gewaar die insident en kom groet vinnig.

“Goeie naand hartjies, is vanaand nie feestelik nie? Hoekom staan julle so alleen by die kroeg soos skapies by ‘n krip? Kom sit by ons.”

Soos gehoorsame skape volg hulle twee die herder. Daar is eintlik nie plek vir ‘n siel aan die tafel nie, maar almal groet vriendelik en skuif styf teen mekaar soos skape in ‘n drukgang.

“Pragtige rok, Lila!” groet Lize. Haar woorde gevul met jaloesie.

“Dankie, Lize. Tenminste pas my klere no … Hoe gaan dit met klein Daniël?” Lize hoor net Lila se laaste sin.

“Ag hy word so mooi gróót. Hy sit by die kindertafel. Speel te lekker saam Wikus se broer.”

“Wie is Wikus se broer?” vra Karla en Lila verbaas.

“Die ouer man by die kindertafel. Het julle nie ontmoet nie?” vra Susan.

“Soort van.” antwoord Lila en Karla soos ‘n tweeling.

“Ja nie maklik om alleen te wees nie. Het hom al aan elke denkbare vroumens op die dorp voorgestel maar gun belangstelling nie. Seker ‘n mo …” Herman se sin word voltooi in almal se gedagtes.

“Herman, net omdat iemand nie getroud is en nie wil teel soos konyne nie, maak dit hulle nie skeef of malaats nie.” skel Lila.

“Wel, dis nie normaal nie!”

“Wat is normal, Herman? Om te trou omdat Pappa en Mamma dit verwag? Omdat jy besef niemand gaan ooit uit hulle eie lief wees vir jou nie? Nou steel jy iemand anders se drome terwille van jou eie geluk?”

“Ek en Susan is lief vir mekaar.”

“Regtig! Susan? Het jy jou werk as argitek bedank omdat dit moeilik is of het jy net besef dat Herman nooit met ‘n vrou slimmer as hy sal trou nie?” op hierdie oomblik kyk die hele tafel twaalf asook tafel elf vir Lila.

“Lila. Ek dink jy en Karla moet weer gaan sit by julle tafel. Nagereg word bedien.” Susan se trane lê vlak soos haar gewese drome.

Karla staan op. Lila bly sit.

“Ek is jammer, Susan. Ek is bly vir jou en Herman. Maar voor ek gaan wil ek net een ding vir julle sê; nog altyd vier ek elke van julle mylpale saam julle. En nou, net omdat ek nie ‘n diamant aan my vinger het nie moet ek afgesonder word? Fok julle.”

“Wel as jy jou soos ‘n kind wil gaan staan en gedra … is dit gepas.” Lize se oë is koud.

Lila staan op en stap die saal uit. Buite groet die maanlig haar gesig. Sy vou haarself toe in haar arms en wens sy het die bypassende pashmina ook gekoop. Sy loop tot by die fonteintjie voor die kapel. Sy asem die aandlug in.

“En as jy so alleen hier staan?” die stem agter haar is kalm, ferm en só vertroostend soos weiding op die horison.

Sy draai stadig om. Dis die vreemdeling.

“Het Karla jou gestuur?”

“Nee sy eet troukoek.”

“Tipies! Was nog nooit een vir konfrontasie nie.”

“Sal jy met my dans?”

“Nee, ek is te kwaad.”

“Iemand moes hulle op hulle plek sit. Dans met my.” die vreemdeling se woorde breek deur Lila se kraal.

“Ek gaan nie terug saal toe nie.”

“Ons dans net hier.”

Hy steek sy linkerhand uit. Trek haar tot teen sy bors. Sy is rustig, veilig en verlore. Saggies begin hy “Moon River” te neurie terwyl die maan op die horison wei.