As pimpernimpie het ek onder my ma se Husqvarna gesit terwyl afvallappies oor my gesig val. Besoeke aan Tannie Jo Nel se winkel is drapeer in Vogue patrone, materiaal en knope. En my Barbies was gereeld geklee in selfvertroue.
My lewe was mooi gebalanseerd; met my Fiat-trekkertjies wat gereeld lande geploeg het; met ’n hoed op my kop. As ek skape getel het was daar ’n kleurvolle lint in my vellies. Wanneer ek saam met pappa melk afgelewer het, het my bersie altyd by my pantoffels gepas.
Al hierdie herinneringe is gestik in die platteland; ’n plek waar verbeelding soms verdor deur “wat sal die mense sê” Of nog erger: “dink”.
Maar mens trek nie sommer jou menswees los nie, of altans jy behoort nie, want jy behoort jou eie patroon te knip en nie deur ander se ontwerpe te leef nie. Maar ons is net mens. Ons wil inpas; ook die winkelpop wees. Ek is weer geleer jy neem alles eers op sig, pas by die huis aan en besluit dan.
Nou hoekom word ons gereeld ’n tweedehandse klerebank van iemand anders? Ek weet nie; dalk is dit verkeerde rolmodelle, dalk is dit die tekort aan rolmodelle… Nataniël se skeppings kan die platteland net só ver inspireer. Wat my hoop gee, is die feit dat daar nog wel muses is, bekend of onbekend, wat hulle eie naat stik. Hulle is soos knope; jy kry hulle in verskillende kleure, vorms en materiale. Naamloses wat die strate gebruik as hulle loopplank; dié wat jy kan sien is hulle eie meter van wees.
Ons behoort hulle as maatband te gebruik; as inspirasie terwyl ons ons eie nate stik!
