Pannekoek breek soms jou hart

Bestandele:

Nat
Daag net op met ‘n brandewyntjie en twee liter coke
2 eiers
100ml olie
500ml water
300ml genade
250ml melk
En een koppie onderdrukte liefde
1 teelepel vrees vir die papegaai
Sopie brandewyn, gebruik ‘n ander bottle. Spaar die bottle wat jy saam gebring het vir die vrede, liefde en pyn

Droog
500ml meel
2t bakpoeier
Sout na smaak en ‘n vrienskap wat jou hart laat smelt

Metode:

Voeg nat bestandele bymekaar en meng dit met droë bestandele
Laat staan vir 10min soos die begeertes wat kom le in jou hart
Skink eerste brandewyntjie
Beslag bedien 10 of 15 of 24 … hang af hoe synnig jy is
Skink ‘n brandewyntjie, maak dit ‘n dubbel
Sit stoof aan
Gooi olie in die pan, moenie die huis afbrand nie
Jy weet wat om verder te doen en as jy nie weet nie behoord jy nie pannekoek te maak nie

Vulsel is opsioneel, kry jou eie resep, Google is almal se vriend. Maar om hom/haar of selfs die papegaai te verlei; neem ‘n Barone, rol die pannekoek daar in en bedien met trane in jou oë.

Wat is Aartappelslaai sonder Pikkewyne?

Voorbereiding:

Nooi ware vriendjies, kolleagas en vreemdelinge vir ete
Jaag ongenooide helpers uit die kombuis
Kook ‘desired’ hoeveelheid Woolies aartappels in ‘n pot met boorgatwater.
(Jy kan baba aartappels met die skil sommer kook tot sag, maar nie pap nie!)
Braai uie met bietjie suiker tot bruin. Braai baconbits ook sommer saam die ui tot lekker crispy… Sit eenkant om aftekoel
Sit ‘n skouspel dvd aan en mingle

Sous:

Jaag ongenooide helpers uit die kombuis uit
Meng – Mayonnaise (Cross&Blackwell)
Kondensmelk, lek die lepel af sonder dat iemand jou sien…tensy jy wil flirt, lek dan die lepel twee keer af terwyl jy vir jou slagoffer staar
Bietjie melk
Growwe sout
Growwe peper
Bietjie tabasco sous vir daardie ongewone verrassing
Chutney
Jaag ongenooide helpers uit die kombuis
Bietjie mosterpoeier
Meng goed deur

Methode:

Jaag ongenooide helpers uit die kombuis
Laat aartappels goed afkoel en mingle eers bietjie weer
Verander die musiek en skink ‘n brandewyntjie
Jaag ongenooide helpers uit die kombuis
Gooi sous oor en meng goed deur
Gooi koue bacon en uie mengsel oor
Jaag ongenooide helpers uit die kombuis
Kook 2/3 eiers sny dun op en sit bo-oor alles
Jaag ongenooide helpers uit die kombuis

Sit in yskas en laat staan vir ‘n hele cd lank, maak dit twee of totdat die brandewyn bottel half is … okay ¾

Bedien met trots saam ‘n tjoppie, ribbetjie of boerewors. As jy nie kan braai nie, is jy geskroef, Woolies verkoop nie gaar vleis nie, nog nie.

Vriendskap wat in jou hart beskuit bak

Bestandele:

500 g botter
30 jaar se vriendskap
2.5 koppies bruin suiker
3 koppies karringmelk
2 eiers
1 liefde vir onthaal
6 koppies nutty wheat
3 koppies koekmeel
1 koppie all bran & muesli
1 koppie klapper
1 koppie lyn-,sesam-, en poppy saad
1 koppie Walco Walco avonture
0.5 koppie sonneblom saad
10 ml bakpoeier
10 ml koeksoda
10 ml kremetart
7 ml sout
5 ml se familie geskiedenis

Voorbereiding:

Meng ‘n vriendskap van 30 jaar
Smelt botter en suiker saam en dink aan die vrede van plaaskind wees
Voeg karringmelk by en laat afkoel en voeg eiers by
Meng droe bestandele en meng alles goed
Gooi in pan en sny voor bak, want herinnering behoord in verseie kamers van jou hart
Bak +- ¾ by 180 C
Droog uit by 110C vir +-1 uur
Verhoog tot 120C vir nog ‘n ½ uur

Bedien met ‘n lekker koppie boeretroos, met drie suikers, en laat die heimwee van ‘n vriendskap in jou hart bak

Braaibroodjies genees enige begeerte, soort van.

Maak: Een broodjie

Bereidingstyd: 10 minute
Op die kole: 6 minute
Temperatuur: Hel

Bestandele:

2 Sny twee-dae-oue-brood
2 Paar potblou oë
60 ml Blatjan/sweet chilli/appelkooskonfyt
125ml kaas
250 ml vluweel stem
Botter
Tamatie
Bottle blond
Ui

Voorbereiding:

1. Stop by Spar
2. Koop hout vir die eerste keer in jou lewe
3. Nooi jouself oor, neem ‘n bottel wyn saam
4. Smeer elke sny twee-dae-oue-brood lekker dik met botter aan een kant. Die ander kant smeer jy met; blatjan/sweet chilli/appelkooskonfyt of die begeertes in jou hart. Ek beveel appelkooskonfyt aan, want hy gaan moan dat die tamatie wat (wat jy later gaan opsit) gaan afgly wanneer hy die broodjies op die rooster braai. Luister na hom
5. Om sy klaagliedere te verdoof sit musiek aan, enige musiek of laat hy vir jou sing
6. Sny ui en tamatie. Rangskik die ui sorgvuldig eerste gevolg deur die tamatie op een sny
7. Rasper die kaas en probeer om nie jou polse te verloor nie
8. Plaas die ander sny brood op jou kunswerk en neem dit na die vuur
Gaan sit langs hom terwyl hy die broodjies braai en probeer om nie verlief te raak nie. Probeer.

Peppermint Crisp Tert genees enige kwaal of verlange

Die foon lui.

Ek is besig om die laaste stuk Peppermint Crisp tert in my mond te druk. Dit was opsetlik. Ek wil nie met Room praat nie. Na haar en Eier se troue het sy verander in een van dáárdie vrouens wat net koeksusters bak vir die kerk basaar. Niks meer van die ou Room het agter gebly nie.

Ek onthou haar as die een wat jou só kon laat lag dat jy bietjie in jou broek piepie. Histeries op die foon een oggend nadat Wors per ongeluk in haar oog gekom het. Die één wat ek uit die tronk moes bail vir dronk op straat. Nou dra sy pêrels. Nou maak se net kind groot.

Elke keer as sy bel is dit dieselfde storie. Kla eers omdat ons lanklaas gepraat het, dan verveel sy elke aar in my wese met nuus oor die kleinding se nuutste geite. Vertel dan graag hoe besig Eier by die werk is en dat sy hom sy puitjie golf gun want hy sorg mooi vir sy gesin. Dan vertel sy van haar vakansie in Parys, fokken elke keer PARYS! Sy was vier jaar gelede daar maar soos klokslag herleef ons elke croissant, elke glas wyn langs die Seine, elke museum. Ek kan nie meer nie! Ek wil ook ‘n man hê.

En nou is my Peppermint Crisp tert op.

Aan die anderkant van die land plaas Room die gehoorstuk neer.

Ek is bekommerd oor Mint. Hy vermy my. Ek weet my lewe is nie so opwindend soos syne nie, maar ek mis my vriend. Hy kon my altyd laat lag, my troos met Peppermint Crisp tert.

Maar die afgelope jaar vermy hy my. Opsetlik. Sonder rede. Hy is ongewoon stil oor die foon. Ek maak maar praatjies, klink al soos ‘n grammofoonplaat wanneer ek weer oor Parys praat. Ek wil net sy stem hoor. Sy hart is seker weer gebreek deur een of ander Chris Hemsworth … Hy is seker op een van sy “business calls.” Hy is seker by ‘n funksie, ek sal môre die fotos op Facebook sien. Ek het nodig om te ontvlug in sy wêreld, myself te verlustig in sy vryheid.

“Mamma! MAMMA! MA!”

“ROOM?! Ek probeer voorberei vir more se …”

Ek kan nie meer nie. Ek is nou lus vir Peppermint Crisp tert