Die foon lui.
Ek is besig om die laaste stuk Peppermint Crisp tert in my mond te druk. Dit was opsetlik. Ek wil nie met Room praat nie. Na haar en Eier se troue het sy verander in een van dáárdie vrouens wat net koeksusters bak vir die kerk basaar. Niks meer van die ou Room het agter gebly nie.
Ek onthou haar as die een wat jou só kon laat lag dat jy bietjie in jou broek piepie. Histeries op die foon een oggend nadat Wors per ongeluk in haar oog gekom het. Die één wat ek uit die tronk moes bail vir dronk op straat. Nou dra sy pêrels. Nou maak se net kind groot.
Elke keer as sy bel is dit dieselfde storie. Kla eers omdat ons lanklaas gepraat het, dan verveel sy elke aar in my wese met nuus oor die kleinding se nuutste geite. Vertel dan graag hoe besig Eier by die werk is en dat sy hom sy puitjie golf gun want hy sorg mooi vir sy gesin. Dan vertel sy van haar vakansie in Parys, fokken elke keer PARYS! Sy was vier jaar gelede daar maar soos klokslag herleef ons elke croissant, elke glas wyn langs die Seine, elke museum. Ek kan nie meer nie! Ek wil ook ‘n man hê.
En nou is my Peppermint Crisp tert op.
Aan die anderkant van die land plaas Room die gehoorstuk neer.
Ek is bekommerd oor Mint. Hy vermy my. Ek weet my lewe is nie so opwindend soos syne nie, maar ek mis my vriend. Hy kon my altyd laat lag, my troos met Peppermint Crisp tert.
Maar die afgelope jaar vermy hy my. Opsetlik. Sonder rede. Hy is ongewoon stil oor die foon. Ek maak maar praatjies, klink al soos ‘n grammofoonplaat wanneer ek weer oor Parys praat. Ek wil net sy stem hoor. Sy hart is seker weer gebreek deur een of ander Chris Hemsworth … Hy is seker op een van sy “business calls.” Hy is seker by ‘n funksie, ek sal môre die fotos op Facebook sien. Ek het nodig om te ontvlug in sy wêreld, myself te verlustig in sy vryheid.
“Mamma! MAMMA! MA!”
“ROOM?! Ek probeer voorberei vir more se …”
Ek kan nie meer nie. Ek is nou lus vir Peppermint Crisp tert