Wanneer koek platval in die oond

Dit is donker. Piknagdonker. Nie eers ‘n ster in sig nie. Was daar ooit ‘n melkweg? Dit is donker. Piknagdonker … Waar sal jou hulp vandaan kom?

Suiker stap na haar kamer. Sjokoladekoek in die regterhand, hartseer in die linkerhand. Jy weet wat gaan gebeur … Sy sit op die vloer en vat die eerste happie. Dan die tweede, derde, vierde. Sy weet dit gaan nie dinge beter maak nie, maar dit help. Dit vat die pyn weg, neem haar na ‘n plek van vrede en hoop.

Dwelm vat die naald. Druk dit saggies deur die vel en laat die onheil deur sy are vloei. Dit verlos vinnig maar is tydelik. Dit neem hom na ‘n plek noord van die hel maar wes van genade. Dit plaas hom op ‘n troon en laat sy hartseer borrel en oorkook in verlossing. Hy vergeet dat dinge eens anders was.

Druif drink net een glasie wyn elke aand. Saam ete. Net om te ontspan. Die dag in perspektief te sit. Om dinge te verwerk. Te kan fokus. Om nie te skel nie. Om te vergeet.

Hartstog is weer terug na hom toe. Hulle noem dit liefde, liefde so magtig soos ‘n donderstorm. Sy weet hy gaan nie verander nie, maar sy is lief vir hom en op ‘n goeie dag is sy seker hy kan probeer verander.

Ons almal gryp op een of ander tyd na een of ander grashalm vir een of ander rede. Vir redding, vertroosting of ontvlugting? Sommige halms is skadeloos terwyl ander kan lei tot eindes. Eindes so tragies soos wanneer koek platval in die oond.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>