Te koop

Ma sit die jelly voor ons drie neer. Sy is moeg, die jaar was lank en onnodig. Haar hande bewe soos jelly en die enigste genade is haar liefde vir God, die UltraMel wat sy oor die jelly uit giet en ons drie wat voor haar sit.

“Ek weet julle gaan nie hiervan hou nie. Maar dit was sy laaste wens.”

“Ma, ons hou van jelly en vla, net nie so baie van die groenes nie.” troos Landa soos altyd.

“Kan ek nog ‘n bietjie vla kry, Lollie?”

“Nee Piet, jy het nie jou groente geëet nie.”

“Maar die jelly is dan groen soos broccoli en geel soos pampoen.”

“Hy het die meeste van die rooies gehou.” mompel Ma.

“Bou nou ‘n nasie, dis reg hier is nog ‘n bietjie. Ma, hoe laat kom Pa huis toe? Hy moet asseblief onthou om vir my ‘n tjek te gee vir die CSV-kamp.”

“Ek sal more vir jou die tjek teken voor ek jou by die koshuis aflaai.”

“Dankie Ma, maar hoe laat kom Pa huis toe?”

“Ja Ma, wanneer? Pappa moet nog saam my deur my somme gaan. Hy is ‘n menslike sakrekenaar.” vra Landa.

“Voor Klaasvaakie julle nag kom soen. Verskoon my asseblief?”
Ma staan op. Stap voordeur toe. Die houtdeur is swaar op haar gewrigte en haar trane. Sy maak die deur agter haar toe. Tree vir tree stap sy die melkweg te gemoet. Haar trane is op die randjie van verlossing. Aan die einde van die stoep kyk sy vir die man in die maan terwyl Bougainvilleas sorgloos in die wind wals. Pa se bakkie stop. Hy is moeg, sy dag was lank en onnodig. Hy soengroet haar op haar wang.

“Naand my skattebol, is die kinders al in die bed?”

“Nee Hermanus, hulle eet jelly.”

“Moenie hartseer wees nie. Hulle sal aanpas .”

“Vraag is gaan ek kan aanpas?”

“Mettertyd … ja.”

“Ek wil nie.”

“Mamma! Met wie praat ma?” vra Landa verrassend van agter.

“Met Liewe Jesus. Kom ons gaan kyk gou na daardie somme.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>