Beste Blommie,

Hier waar ek kweek tussen Agapanthus en lelies weerklink daar iets binne my wat ek nie kan beskryf nie …‘n leemte …

Verstaan asseblief mooi, ek skryf nie hierdie brief om jou hart terug te wen nie. Ek skryf hierdie brief omdat ek glo jy moet weet dat ek jou vriendskap mis, weet dat jy ‘n geskenk van bo is en weet dat ek jammer is.

Kom ons begin by laasgenoende … ek is jammer. Jammer dat ek ‘n potensiële vriendskap soos onkruid vernietig het. Verstaan mooi, dit het my sewe jaar geneem om my lewenstuin te plant. Te plant met selfvertroue, aanvaarding en eerlikheid. En net toe ek alles mooi rangskik het, toe plonks jy pens en pootjies in my tuin en spit alles deurmekaar. Ek gaan nie te diep hier grawe nie, maar wat ek eintlik wil sê; jy het meer as wat jy besef, steggies in my lewe geplant. Steggies soos; om meer te gee as om te ontvang, reëls te laat vaar en om nie jaloers te wees op mense nie. Dankie daarvoor, ek gee dit nou elke dag water.

Tweedens, Liewe Jesus het voorwaarlik die grootste geskenk, tyd saam met jou, aan my geleen en ek weet al die ander mense in jou lewe glo dit ook. Jy is soos die eerste bloeisel in lente. Om te dink dat hierdie wêreld jou elke dag beleef is so vertroostend soos reën tydens ‘n droogte. En dit was ook ‘n rede vir my reëls en jaloesie, ek wou jou myne hou vir solank as wat ek kon. En die vrees dat ek jou kan verloor, dit wat ek probeer vermy het, het toe gebeur …

Laastens, ek mis jou. Ek mis die random kuiers wat restaurante toemaak, onbeplande avonture en jou smile by Artscape. Ek vra nie hier vir ‘n tuin van Eden nie, ek respekteer jou afwesigheid en die manier waarop jy hierdie situasie benader, maar wanneer jy eendag reg is om weer in my tuin in te stap, sal ek vrywillig die hekkie oop los …

Tot die son opkom.

Gesiggie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>