Drome van vrees

Drome van Vrees

Ek loop na die afgrond. Julle almal is daar, elkeen wat my lewe gevorm het. My ma lei die koor met haar trane, kompleet asof Woolworths nou net in Bothaville oopgemaak het. Julle snik van hoe julle waarsku: “Moenie spring nie!” Ek hou my doof. Loreena McKennitt se Dante’s Prayer weergalm in die verte. Ek maak my oë toe, haal diep asem en spring. Soos ‘n voëltjie wat uit die nes geskop is tuimel ek deur die lug, ek voel die verlossing, dit omhels my hart soos warm vla. Ek voel hoe julle gil: “Ons het jou gesê!”. My buddy skree die hardste: “Ek het jou gesê om nie jou Redbull met Vodka te meng nie, only Redbull gives wings.” En net voor ek die grond tref, net voor ek soos ‘n duif op Kerkplein my lewe offer vir ‘n krummel, begin iets – geloof of genade – my te laat styg. Ek vlieg hoog oor die horison, jammer vir die Joanita verwyssing, tot anderkant die melkweg.

Vrese, die een emosie wat soveel aantal mense laat voortploeg in hulle armsalige bestaan. Hoekom doen ons dit aan onsself? Hoekom laat ons dit toe? Hoekom is jy bang om die gerieflikheid van ‘n 9 to 5 te verlaat om jou gallery oop te maak? Hoekom bly jy in daardie ongesonde verhouding? Hoekom laat jy toe dat ander oor jou loop? Hoekom kan jy nie die verlede met rus laat nie en jou huidige hemel aanvaar? Die antwoord is eenvoudig, ons is moer bang. En dus verkwansel ons, ons drome/vrede vir ‘n stukkie brood.

Ek is bevoorreg om ‘n handjie vol engele te ken wat hulle bangeit laat staan het, wat daardie werk bedank het en nou leef om skeppend te wees (dankie vir die blog Surina), wat daardie verhouding beëindig het en nou sy liefde deel met straatkinders, wat gesê het ek is nie ‘n welkom matjie nie kry jou eie tee, wat die letsels van die verlede salf met die mooiste gedigte van haar reise. Hulle is ‘n handjie vol maar hulle is daar.

Julle kan soveel redes/verskonings uitdink om met my te stry. Maar dit is slegs wanneer jy jouself toelaat om die wonderwerk wat jy is tenvolle te omhels dat jy jou verlos van al die kettings wat die wêreld, jou familie, jou vriende maar eintlik net jyself daar geplaas het. Ek weet dit is maklik gesê, maar ons kan klein begin. Dit vir dag na dag vat, klein treëtjies neem soos toe jy destyds geleer loop het. En wie weet, dalk leer jy een van die dae om te vlieg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>