In my kinderjare is daar net n paar oomblikke wat my bybly: 1. Mam wat my troos met UltraMel. 2. Op die gras, saam my familie, terwyl ons sateliete soek. 3. Pa wat Sondae sy leftover braaibroodjie met my deel. 4. Onder Ma se Husqvarna terwyl stukkies lap op my gesig val. En 5. Ouma Kotie se ingelegte perskes.
My laerskooljare is ingekleur met: 1. Ballet voor Juffrou Koekoe se klas. 2. Pieter Burger wat al my kartonwerk projekte voltooi. 3. Die Voortrekkers, Skaak Klub en Krieket span wat aanbeveel dat ek n ander stokperdjie beoefen. 4. Kaalvoet tydens pouse. En 5. My mini sjokolade empire.
Hoërskool het gelei na vele terapie-sessies maar wat ek kan/wil/mag onthou is: 1. Pouses op n trap terwyl Shakespeare my leer van n wêreld oor die Vaal. 2. Juffrou Saartjie se onrealistiese Huishoudkunde verwagtinge. 3. Philip se smile in die Wiskunde klas. 4. Stefan Liebenberg wat al my houtwerk projekte voltooi. En 5. Mode-parades tydens debat.
Universiteit was soos vir menigde, jare wat diep in my hart lê: 1. Die eerste dag toe ek vir Adri ontmoet en n vriendin vir ewig ryker word. 2. Toe Surina en Corli in my lewe in wals, jy kan my fax as ek weet hoe dit gebeur het. 3. Ek en Jolandi se Wacky Wednesdays en later saam Lizelle Presleys se karaoke. 4. Gesiggie en Gummie Bear. 5. Oomblikke onder Sunnyside se lapa, die Ackerman woning se sitkamer en saam Leany, Ansobeth, Riëtte en Natasha op G4F se tafels.
En toe trek ek Kaap toe en soos wat my oudste sussie getuig, bly ek omtrent in elke windrigting. Hier het nuwe herinneringe my hart kom steel: 1. Ek en Andrea se standaard doughnut middagetes. 2. Jean Mari se drukkies en meetings. 3. Mari se onverwagte geskenkies. 4. Die JC assistente wat vir altyd in my hart n plek sal he. En 5. Die dag toe ek vir Irma, Liandra, Lucindi, Nichole en die besondere Elunda ontmoet.
Ander buitemuurs-oomblikke sluit in: 1. Ek en Marais se roadtrips na die uithoeke en afdraaipadjies van ons verbeelding. 2. Brandewyntjies saam Pierre. 3. Ferdi se koerant uitknipsels teen sy yskas. 4. Armand wat al my bome stomp snooi. En 5. Die onvergeetlike, inspirerende en finominale week by Riana Scheepers se laaste Kreatiewe Skryfkuns kursus op De Companje.
Dit was hier waar ek geleer het dat: 1. Daar wel ander siele op aarde is wie se hart ook anders klop. 2. Brandewyn voor nege gedrink kan word. 3. Jy jou woorde vir 10 sent n meter kan verkoop. 4. Sjokolade fondant enige hartseer genees. En 5. Dit sonde is om nie jou talent met die wêreld te deel nie! Maar vanselfsprekend was dit nie goed genoeg vir my nie. Ek wou nie luister nie, nie na Riana Scheepers nie en ook nie na die 200 mense wat my geseën het met hulle aanmoediging nie MAAR toe gebeur iets…
Vrydag, 3 Junie 2016 staan ek in n parkeerarea en Karine Retief seën my met dierbaarste kompliment wat my n ewigheid sal bybly. En net daar en dan weet ek dis tyd om op te hou veg. Dankie, Karine! Te verstane, is mens mos maar só; ons wil nooit luister nie, weet van beter, dink die een na die ander verskonings uit. Een TedTalk vertel dat ons basies vir die wat ons aanmoedig sê hulle weet eintlik niks.
Maar nie meer nie want; die duurste skoolgeld wat jy in diese liewe kan betaal is om nie na jou engele te luister nie.