Ons is elf in die dakkamer. ‘n Hele kolonie oor sestig, ek, Angelina Jolie, twee mans wat lyk asof hulle verdwaal het oppad na n veiling toe en ‘n meermin wat laat is. Almal gretig om te leer hoe om woorde in Sarie te publiseer.
Die meermin loop skaam-skaam tot by die naaste stoel. Heel voor. Sy gaan sit met die grasie van ‘n simfonie. Sy is pragtig met hemelblou oë wat jou laat glo in ‘n hemel, ‘n bos hare en ‘n uitrusting geskik vir Nataniël.
Twee dames fluister vir mekaar: “Sy dans seker later in ‘n konsert.” Die res beskinder die jeug wat geen respek het vir tyd nie en ek wonder of ek verdwaal het?
Sy kyk oor haar regter skouer. Knipoog vir die klas en prewel met haar lippe “jammer.”
Die praatjie begin en almal se skryftalent word in 20 minute vernietig deur kenners met ondervinding. Aan die einde vra een van die aanbieders of daar enige vrae is. Almal is doodstil, ons sal maar eerder begin bak en kyk of ons só in die Sarie sal verskyn. Maar die meermin steek haar hand op.
“W-w-wa-aa-r k-k-kry m-m-m-ens ie-e-m-m-m-an-nd o-o-o-m-mm j-j-jou w-w-w-we-e-r-rk t-te p-p-p-proe-e-e-f l-l-l-lees-s?”
“Sy is doof.” Fluister die tannie voor my. Ons is almal stomgeslaan.
Tydens middagete kom groet die meermin vriendelik, waar Angelina Jolie en ek ons verlore drome op die bodem van ‘n wynglas soek.
“M-m-mmy n-n-naa-am i-i-is V-v-v-vick-ky.”
In hierdie oomblik besef ek ‘n heelal vol waarhede, onder andere dat jy nie n stem nodig het om jou woorde oor die wêreld te laat weergalm nie.