GEVAARtekens!

Daar is iets meer gevaarlik as ‘n padpatrollie-kaptein met ‘n fluitjie … en dit is ‘n werksdagboek wat lyk soos spitsverkeer in Johannesburg.

Marathon-vergaderings, e-posse een uur die oggend, Excel spread sheets wat 20 keer oorgedoen word, alles epidemies wat nie net veroorsaak dat jy vergeet om te piepie nie, maar wat jou in ‘n RAG (Robot: Rooi, Geel, Groen) verander.

En ja, van kleins af word ons geleer om te beplan, georden te lewe, of my grootste frustrasie – BALANS te handhaaf! Maar tye het verander, verwagtinge is so alledaags soos om ‘n rooi lig te vermy. Wat die volgende vrae in jou kop laat parkeer: Is dit die moeite werd? Wie stel die maatstaf? So, is dít die rede vir lewensversekering?

Hoe het dit gebeur dat ons lewe bestuur word deur ‘n kalender? Menige blameer die seisoen van ons tyd, die druk om te presteer of die vereistes van die korporatiewe padkaart. Die ergste is dat die gevaartekens skuil en dan eendag soos ‘n Speed Cop agter ‘n bos uitspring en die boete dalk jou lewe is.

Ek het kollegas wat elke keer as jy vra; “Hoe gaan dit?” jou vertel hoe besig hulle is, en dan verbaas is as jy sê; “Ek vra hoe gaan dit met jou, nie jou dagboek nie”. Selfs op Tinder sal die antwoord lees: “Ek werk in …” as jy vra; “Wat doen jy vir ‘n lewe?” Is ‘n lewe dan gelyk aan ‘n werk? Of is dit soos wat Victor E Frankl in Man’s searching for Meaning getuig: “He who has a why to live, can bear almost any how”. Hy verduidelik dat die WHY bestaan uit: 1. Om iets te doen wat jou geluk verskaf en 2. Om iemand of iets lief te hê. Elkeen ‘n waarheid, maar so uitdagend sóós parallel-parkering.

Pinterest quotes sal graag sê; “It is the journey and not the destination that matters most!” en miskien is dit tyd dat jy in jou blindekol begin kyk, want daar mag dalk iets wees wat jou bekruip en jou jou OUTbonus gaan kos.

So, hoe identifiseer jy die gevaartekens, dié wat Daantjie Kat ons nie van geleer het nie? My antwoord – beste is om dit nie te verontagsaam nie; ‘n stopstraat is immers daar vir ‘n rede. En maak nie saak in watter vorm, tyd of haas die stopstraat verskyn nie, STOP. Haal asem, kyk links, regs en weer links, en ry aan of sit ‘n flikkerlig aan en kies ‘n ander pad.

Oude Libertas

Liefdesengele van Oude Libertas

Daar is ‘n lappie grond, in die hartjie van ‘n Liefdesbosch, omring deur vrede en kultuur. Waar mens pens-en-pootjies in die hemel land.

In 2010 sweef my skaduwee, as besoeker, deur die poorte van hierdie hemel en word weggevoer na ‘n wolk van verbeelding en onvoorwaarlike liefde. Dit sou wel ses jaar duur voor die stukkie hemel my permanente tuiste word en besef; dit is slegs hemel as jy omring word deur engele.

En hier vind jy ‘n skare engele. Engele wie se vlerke jou vreugde vier met ‘n drukkie, wat glo ‘n koppie tee kan enige traan opdroog, wat liefde uitdeel sóós Gideons-Bybels. Wat nie net waak oor jou nie, maar eerste wees wat sê: “Gertjie, jy word nou lekker vet. Sit neer die koekie.”

Elkeen afkomstig van die omgewing, met ‘n doktorsgraad in die lewe. Hulle lewensverhale inspireer nie net nie, maar omvou jou geloof in die mensdom. ‘n Geloof geseël met liefde.

Dit is alles waar! Dit is alles daar! Waar jou gees, tussen hulle, sorgvry baljaar! Doen jouself ‘n guns; gaan sit onder een van die eikebome, sluit jou oë en laat hulle liefde die wind onder jou vlerke wees.

Vincent in die nag

Mpumalanga

Die son se strale seën die stofstrate van Breyten, tussen die twee rakke in Breyten Hardeware weergalm daar ‘n stilte van armoede. Siyabonga het nou al die spykers en hamers twee keer gepak. Hy werk nou al 4 jaar tussen die rakke. Hy is gebore en getoë in hierdie omgewing en is grootgemaak deur sy ouma. Alhoewel daar nie genoeg geld was vir skooltoegaan nie, was daar baie liefde.

Hy gaan sit by die toonbank, maak sy notaboekie oop, neem sy stomp potlood en sonder om te dink begin hy met sy berekening …  lim┬(n→∞)⁡〖(1+1/n)^n 〗

KwaZulu-Natal

Die son bak die polisiestasie in Bulwer goudbruin. Bhekizizwe slaan die docket toe; dis die derde diefstal vir die dag. In retrospek is dit ‘n rustige dag, maar hy weet dit kan enige oomblik verander. Hy is nog nie getroud nie; ongewoon vir ‘n man van 30. Soos gewoonlik neem hy sy middagete  (een Yum Yum peanut butter broodjie sonder botter) om 12h00 en stap die heuwels van Bulwer uit.

Hy gaan sit kruisbeen op die grond. Hy neem die stuk karton wat hy opgetel het, haal die charcoal uit sy sak en begin die horison te skets in skakerings van wonder.

Noord-Kaap

Die bankstempel en verlatenheid weergalm in Danielskuil se FNB. Naledi streel elke honderdrandnoot wat deur haar vinger trippel. Sy is dankbaar vir die werk, dit hou haar sussie op skool en haar pa se skuldeisers weg. Na haar ma se dood moes sy terugkom huis toe. Sy het ‘n beurs gehad om by die Bolshoi Ballet Academy te gaan studeer, maar verantwoordlikhede kom eerste; sy vind wel vreugde om elke oggend die son te groet.

Sy staan vier uur op, vleg die balletskoene om haar enkels en strik haar gemoed met drome. Sy gaan staan in die middle van die pad, sauté en dan relevé soos wat die son se strale oor die horizon verskyn.

Wes-Kaap

Die aandster verskyn in die verte oor Graafwater. Flip sluit Agrimark se voordeur, hy kan die dag agterlaat. Hy was ‘n derde generasie boer. Sy toekoms was bepaal voor sy geboorte, maar toe kom die droogte en hy moes ander planne maak. Hy het nou ‘n goeie werk by Agrimark, dis ‘n inkomste. Wie is any way geseën om sy drome te volg, troos hy hom daagliks. Maar dis slegs saans wat hy sy wese se vlerke kan laat wapper.

Hy stap sy eenslaapkamer woonstel binne. Skink ‘n glas rooiwyn, laat Edith Piaf deur die huis weergalm terwyl ‘n enkele kers vreugde teen die mure flikker. Op die spyskaart vanaand  is eend met granaat compote en aspersies. Hy gaan sit alleen by die tafel, sy siel dans deur die vertek. Terwyl hy bid, streel hy die string pêrels om sy nek.

Vrystaat

Terwyl die laatmiddagson oor Memel se kerktoring loer, wag Rita geduldig vir Hanri se klavierles om klaar te maak. Haar drie kinders is die kroon in haar hart. Hulle skedule hou haar twaalf ure per dag besig. As dit nie Wiskunde ekstra klas is nie, is dit krieket, as dit nie klavier oefening is nie, is dit Japanese klasse. Sy en Willie is nou al vir 15 jaar doodgelukkig getroud, alhoewel hy haar nie aldag verstaan nie.

Vannaand,  oudergewoonte, stap sy na haar biblioteek in die spaarkamer se hoekie.  Dis eintlik net ‘n boekrak, maar vir haar is dit die Biblioteca Joanina van haar hart. Sy gaan sit in die skaduwees van haar talent en soos wat sy oor die woorde begin streel,  begin gedigte in haar binneste speel.

Noordwes

Die maan rol oor die Sannieshof se horizon. Luke skrop die dag en grease van sy lyf af, hy dink terug aan hoe hy hier gekom het. Sy kinderdae langs die treinspoor, die afwesigheid van ouers, die garage. Dit is sy meditasie, mens moet reflekteer. Hy trek sy enigste wit hemp aan, hy het net een, want mechanics kan nie wit dra nie. Sy swart pak versteek sy hartseer, sy das strik sy potensiaal.

Hy gaan sit agter sy Tjello en begin die snare seën met St. George Tucker se Look Down Fair Moon, trane rol oor sy wangetjies.

Gauteng

Die stof rol oor Akudzwe se gepolitoerde skoene tot by die Taxirank in Soweto, hy moet sesuur by ADT aanmeld. Hy was ‘n onderwyser in Chinhoyi, maar na die onluste moes hy ander planne maak. Dit sal sy derde skof wees in 48 uur, maar hy kla nie want dit is alles vir sy gesin, hy stuur sy hele salaris vir hulle.

Hy gaan sit, soos altyd, heel agter in die Taxi, want dan pla niemand hom nie, dit is die enigste tyd van die dag wat hy woorde kan leer. Hy slaan Hamlet se teks oop en belê die woorde diep in sy hart. Openingsaand is oor ‘n week.

Oos-Kaap

Soos die dag sy storie omvou oor die strate van Sterkstroom, loop Funeka die PEP tegemoet. Sy werk nou al vir 10 jaar as kassier, sy het aansoek gedoen vir ‘n bestuursposisie maar ‘n vrou van Port Elizabeth is ingevoer. Al wat haar motiveer is haar liefde vir die klere, dis die rede hoekom sy nog by PEP werk, want haar hande kan oor die materiaal streel. Dit sus haar tot 17h00 wanneer sy terugkeer na haar eenvertekhuisie.

Sy gaan staan voor die mannekyn wat met haar nuwe skepping pronk, en streel haar vingers oor die rou sy. Alhoewel sy haar eie patrone ontwerp, word sy geïnspireer deur Dior. Haar skeppings is net vir haarself.

Limpopo

Die sterre wemel oor Tubatsa, terwyl die naggeluide soos ‘n koor die donkerte verwelkom. Nyakallo sluit haar voordeur oop. Sy is weer rot en kaal besteel; daar lê net ‘n beker. Sy werk net Dinsdae en Donderdae by Petro, 40 kilometer buite die dorp. Sy is lief vir die familie, hulle kyk mooi na haar. Sy maak vir haar ‘n koppie koffie, want dit stil die ergste hongerte.

Sy loop  haar klein tuintjie binne, haar gesig ontmoet die suiderkruis en dan, asof by die Queen se Royal Variety Performance, begin sy te sing … “Vincent, This world was never meant for one as beautiful as you.”

skêr

Niemand het my geleer, gewaarsku of voorberei nie. Dit was in geen sin/cos of tan stelling nie, ek het dit nie raak gelees in Sus en Daan nie en dit was defnitief nie in my huishoudkunde praktiese geleer nie … VOLWASSENHEID …

Dinge soos: hoe om ‘n lewenspolis te kies, hoe om jou belasting te doen, dat jy moet onthou om jou motorlisensie te hernu … Nee, ons word geleer hoe om reguit te knip met ‘n skêr.

So bevind ek my in ‘n grootmens wêreld waar elke dag nog ‘n les geleer moet word.

Donderdag, 13 September 2017.

My motorlisensie het verval. Ek staan in ‘n ry by die verkeersdepartement. Al die toonbanke is beman, dis ‘n eerste ervaring. Die tannie is hulpvaardig, dis ‘n eerste ervaring. Ek kry die lisensie sonder enige moeite, dis ‘n eerste ervaring. Ek ry huis toe. By die huis soek ek ‘n skêr. Terwyl ek sit en knip, al-om-die-rondte, besef ek … ongeag die les, tyd sal leer wanneer jy dit sal verstaan.

Bergzicht

Bergzicht Graduation Speech

March 01, 2017

I receive a call from Bergzicht Training Centre. They ask me to deliver a speech at their Graduation ceremony. Suddenly I am filled with a blessed unrest; what does one say? What does one not say? Will they care? I never considered myself an Oprah or Simon Sinek

As one does, I immediately revert to alcohol as a tool of inspiration. On my second glass of bubbly … inspiration struck. Champagne … unique … remarkable!

The result …

March 14, 2017

My fellow spirits,

Today I stand in front of you not on behalf of a benefactor, but as a fellow life-force. My message to you is wrapped in love. When I started meditating on this message, I had no clue what to say … I am no guru or preacher … I am merely a traveller of life, blessed to share a world with you.

So instead of preaching wisdom I want to explain a process, a process that I feel is vital when celebrating life and hopefully leaves you with a message.
What is the one thing that you associate with achievement? Champagne of course! Please bare with me …

Champagne; nectar of the gods, joyous, remarkable! To appreciate this product you have to start by understanding the process.

The journey starts in the vineyard, where the winemakers only harvest exceptional grapes to produce a base wine. In this analogy you are the base wine which is a blend of soul and character which your Creator harvests.

Once the quality base wine is created, Liqueur de Tirage is added. Tirage is a mixture of sugar and yeast but in your case the Tirage is a combination of your natural talent and passion.

A crown cap is placed on top of the bottle to secure the content. The purpose; in order to generate pressure which results in baby bubbles (beads) being born. I view the crown cap as anyone who is challenging you with the “realities” of life. This includes society, teachers, family, friends … who place unnecessary pressure on you. But as pressure is necessary in the champagne process, so it is in life. You build resistance and become stronger.

After the bubbles are born towards the wine, champagne undergoes a period of maturation. This is extremely important because it establishes the quality of the beads. I view this maturity phase as the moment that develops your spirit of potential.

After the maturation period is complete, the crown cap is removed and Liqueur d’Expedition/dosage is added. This is crucial and establishes the style of the Champagne.  Dosage in my opinion is your essence of being.

A cork and muselette is added to secure and protect the Champagne. This is a symbol of your belief, securing you in life.

This is followed by labelling. The label serves as your identity or your unique selling point. Differentiating you from the world and its inhabitants.

Champagne is then ready to be distributed to be sold. Just imagine, you are standing at Makro before a wall of choices. You obviously choose the Champagne that speaks to you, that is familiar. As in life, we will choose partners, friends and careers that speak to your hart.

The last step is finally popping that bottle. And that day; be it your wedding day, the birth of your children, when you open your own restaurant or graduate, you will CELEBRATE you!!

I believe, one can never compare any Champagne because each bares a truth of distinction that one should never try and change or duplicate.

This reminds me of a quote by Martha Graham: “There is a vitality, a life force, an energy, a quickening that is translated through you into action, and because there is only one of you in all of time, this expression is unique. And if you block it, it will never exist through any other medium and it will be lost. The world will not have it. It is not your business to determine how good it is nor how valuable nor how it compares with other expressions. It is your business to keep it yours clearly and directly, to keep the channel open. You do not even have to believe in yourself or your work. You have to keep yourself open and aware to the urges that motivate you. Keep the channel open. … No artist is pleased. [There is] no satisfaction whatever at any time. There is only a queer divine dissatisfaction, a blessed unrest that keeps us marching and makes us more alive than the others”

In conclusion. Thank you for blessing me, for allowing me to stand next to you as you embark on your journey. I am humbled by the hope sitting in front of me today.  And, even if you can’t remember anything from this message, just remember: you are the universe in ecstatic motion.

IMG_20171004_122935_330

‘n Sagte stem …

Maandag

Ek staan in ‘n ry by Woolworths se Customer Service. Daar is ses tellers; twee is beman. Die tannie voor my blameer die regering. Die oom agter my sê hy sal môre weer kom. Vyftien minute later bereik ek die toonbank. My geduld is op. Voor my staan Dzikamai.  Oudergewoonte vra ek: “Wat beteken jou naam?” Want, een: jy het ‘n naam nodig as jy wil kla en twee: iemand het my een keer geleer sommige Afrika kulture gee hulle kinders twee name. Dzikamai antwoord “Be calm.”

Dinsdag

Ek het verslaap. My straightener gee die gees. My haarsproei is op. Ek verlang na George Clooney. My vriende is almal getroud. Ek wil nie gaan werk nie. Ek klim befok in die kar. Die petrolliggie brand. Ek stop by Engen. Sithembele kyk  agterdogtig na my terwyl ek vir hom deur die venster loer. Ek vra hom wat sy naam beteken? Hy antwoord “Hope.”

Woensdag

‘n Paar assistente ry saam met my werk toe. Ek kla oor die afwesigheid van liefde, die feit dat Nutella nou al R 50.00 is en die onsekerheid van my toekoms.  Peggie sit en luister. Op ‘n stadium vra ek vir Peggie wat haar eerste naam is. Sy antwoord “Rutendo – Faith.”

Donderdag

My ontvlugting is sigarette. Dit is my derde een in vyf minute. Ek het ‘n problem. Precious hou my geselskap. Ons werk al vyf jaar saam. Ek vermaak mense met staaltjies; sy bedien gaste met borde kos wat enige mens sal laat sterf aan cholesterol. Ek het nog altyd aangeneem dit is haar passie. Ek vra haar: “Precious, what is your passion?” Sy antwoord: “Fashion Design.” Ek vra haar wat beteken haar naam. Sy lag en sê sy sal dit vir my neerskryf. Ek lees later: “Mandionec?” -What have you seen in me.”

Vrydag

Ek kuier saam met vriende in Blouberg. Ek is de bliksem in vir my vriende; hulle het my ex genooi. Dit is nog nie eers ‘n week na die break-up nie. Ons waitress se naam is Thembi. Sy is my enigste verlossing, sý en die pizza. Ek vra haar wat is haar volle naam. Sy antwoord sy sal dit vir my later gee. Voor ons loop sit sy ‘n papier voor my neer, dit lees “Thembika – love each other.”

Saterdag

Ek is weer in Woolworths. Ek besef ek het ‘n probleem. Maar Miela is vriendlik en help my om van ‘n paar note ontslae te raak. Terwyl sy my pakkies opmaak vra ek wat haar naam beteken. Sy vertel die geskiedenis van haar naam en skryf dit vir my neer: “Miela – Achumile – Prosperity.”

Sondag

Ek het geen rigting nie. Ek wil opgee en oorgee aan die genade van onheil, so vanselfsprekend stop ek by KFC. Ek het genoeg gehad van die lewe en sy dom konyne wat bly teel. Die outjie agter die toonbank se naam is Freddy. Ek vra hom wat sy eerste naam is … hy antwoord “Abdul Fatai.” Ek sê:  Skryf sommer op die slippie. By die huis lees ek … Abdul Fatai meaning “God will show you the way.”

Branders wat geheime fluister

Elke Desember kamp ons in Margate! Freakin Margate! Beter as Wawiel Park of Aliwal Noord maar steeds … Margate?!? Bly nie soos die res van die beskawing in ‘n hotel nie, NEE ons freakin kamp soos mense wat net Bake Beans en Sardines kan bekostig.

Die ding is, ons kan ongelukkig nooit ‘n behoorlike Kersfees-See-Vakansie beplan nie. Dit is plant tyd, Pappa se besigste tyd van die jaar. Elke jaar waarsku hy dat ons by die huis moet geskenkies uit deel en dan twee dae voor Kersfees pak hy die Mercedes en vreet ons tamatie en uie broodjies tot anderkant Bethlehem .

Ek en Ma aan die ander kant haat kamp! Ons haat die koue, tekort aan ‘n haardroeër, stort met jou plakkies aan. Dis ongerieflik en dit mag dalk snaaks en opwindend wees op 6 maar op 16 lol die ietwat met my sosiale status. As enigste erfgenaam mag ek darem elke jaar ‘n maaitjie saam sleep maar die jaar is anders … Pappa het te lank gewag met sy verrassing en nou tan al my vriendinne op Stilbaai.

Op Vrydag die twee-en-twintigste Desember kondig Pappa aan “Ons val môre oggend vier uur in die pad.” Ons toebroodjies maak dit nie eers twintig kilometer buite die dorp nie. Ons stop buite Kroonstad vir ‘n Wimpy ontbyt. Agt ure later ry ons die Kampterrein binne. Al die mense vier al fees. By die hek groet oom Willem vriendelik en skerts dat Pappa hom sal moet begin betaal omdat hy ons “hawe” jaarlik moet reserveer vir die wis en die onwis. Ons staanplek het Pappa en Mamma al jare gelede “die hemel se hawe” gedoop omdat dit die enigste plek is waar mens die see kan sien vanuit jou slaapsak.

Pappa het nie eers die kar behoorlik tot stilstand gebring nie toe sak die hele kolonie op ons toe. Bekendes, nuwes, oues, jonges, lelikes, mooies. Sommige help afdra, ander help tent opslaan, die res dra braaivleis, knoffelbroodjies en Coke aan. Almal is net te bly om ons te sien. Uit die hoek van my oog gewaar ek ‘n nuwe gesiggie wat fliks vir Pappa help om die tent op te slaan. Hy is blond. Sy lyf goudbruin geseën deur die son. ‘n Held wat enige seerower sal laat sneuwel. Agter hom trippel daar ‘n stertjie wat gerus ‘n paar ekstra tasse kan dra om meer oefening te kry. Hy is kort, dik en spierwit.

Die volgende dag sien ek die twee op die strand. Mamma is winkels toe en Pappa , oom Willem en oom Patrys hengel naby die rotse. Ek gaan koop vir my ‘n draairoomys met ‘n Flake en gaan parkeer my tussen ‘n verspoelde sandkasteel en ‘n tannie in ‘n geel bikini. Net toe ek my Danielle Steele boek wil oopslaan op bladsy een skyf daar ‘n skadu oor my boek, my lewe en my hart. Ek kyk op. Reg binne twee saffierblou ogies vas. Oë wat lyk asof engeltjies wawiele maak.

“Vir wat lees so mooi meisiekind sulke snert?” sy oë verander sy gees onmiddelik van wawiel engele na ‘n malgat wat jou trek na die duiwel se vurk. Hy is ‘n doos. Ek ignoreer hom en fokus weer op my boek.

“MEISIEKIND! Ek praat met jou! Het die snert jou brein reeds so bevark dat jy nie eers kan praat nie? Koggelkoppie?” sy gees smeul saam met die ander demone. Ek bly tjoepstil. Nie eers een donnerse engel in sy oog sal hom ooit kan red nie. Die vette langs hom tik hom op die skouer en wys hulle moet iemand anders gaan terg.

Daardie aand braai almal saam. Ek en Ma maak slaai en brand kersies om die muskiete weg te hou. Tannie Hettie kom klop en vra of ek nie vir Stefan en Dirk kan gaan roep nie. Ek en Ma kyk haar aan soos twee wie se vlakoek tweede prys gekry het by die skou. Sy vererg haar bietjie en Ma bied aan om die klonge te roep. Toe sy met hulle by daardie tafel opdaag wil ek slange vang. Stefan is die blonde held met die siel van die hel. Dirk is die vette wat lyk soos ‘n sneeuman wat verdwaal het.

“Goeie naa-aand Lil-laa, he-et jjy le-kkk-er gel-l-l-ees?” Dirk sit aan my linker kant en Satan aan my regter kant.

“Moenie eers probeer nie Dirkie. Meisies soos sy se tong kry jy net op een manier los. Hulle is soos pa se ooie, hulle blêr slegs op pad slagpale toe.” Ek wens oom Patrys en Pappa het gehoor. Hulle sal hom lag lag as aas kan gebruik. Daardie aand bid ek dat Liewe Jesus vir Stefan aan ‘n haai voorstel volgende keer wanneer hy gaan surf.

Vir die volgende twee dae vermy ek die broers.

Die laaste aand, braai almal weer saam. Tannie Hettie en Mamma maak paptert van alles wat oor is in die koelhouer en Pappa en oom Patrys braai van die laaste tjoppies, so dat daar plek is vir die vis. Ek gaan groet die see, tel skulpe op vir ma se gastebadkamer en kry seewater vir Aliena en Thomas. Terwyl ek terug stap sien ek vir Dirk wat roerloos na ‘n brander staar. Ek tik hom op sy skouer. Sy grasgroen oë is vol pêrels. Hy weier om my in die oë te kyk. Hy begin mompel …

“Hhhhy wwwou jjou ssse-e-e-ee-r m-mmaaak v-v-va-n-n-aaand sss-so dat jjy kaaan p-ppraaat. Hh-hul-le saaal ho-om nn-nie kk-k-kry nie. Hhh-hy sssl-laap sss-saaaam d-ddie vvvv-vissss-ies. Nie-mmm-mand w-w-weeet h-hy kkkk-aaa-nie swww-wem nie o-of da-at e-ek kaa-aan surf nie.”

Ons is nooit weer terug na “die hemel se hawe” nie. Ek weet nie wat van Dirk geword het en of oom Patrys ooit weer op rotse sal kan hengel nie. Pappa beplan nou beter, volgende jaar gaan ons Duitsland toe vir Kersfees. En snags as ek saggies bid vir Dirkie, wonder ek of dit nie maar beter is om stom te bly speel nie.

IMG_20161020_070241

Beste Blommie,

Hier waar ek kweek tussen Agapanthus en lelies weerklink daar iets binne my wat ek nie kan beskryf nie …‘n leemte …

Verstaan asseblief mooi, ek skryf nie hierdie brief om jou hart terug te wen nie. Ek skryf hierdie brief omdat ek glo jy moet weet dat ek jou vriendskap mis, weet dat jy ‘n geskenk van bo is en weet dat ek jammer is.

Kom ons begin by laasgenoende … ek is jammer. Jammer dat ek ‘n potensiële vriendskap soos onkruid vernietig het. Verstaan mooi, dit het my sewe jaar geneem om my lewenstuin te plant. Te plant met selfvertroue, aanvaarding en eerlikheid. En net toe ek alles mooi rangskik het, toe plonks jy pens en pootjies in my tuin en spit alles deurmekaar. Ek gaan nie te diep hier grawe nie, maar wat ek eintlik wil sê; jy het meer as wat jy besef, steggies in my lewe geplant. Steggies soos; om meer te gee as om te ontvang, reëls te laat vaar en om nie jaloers te wees op mense nie. Dankie daarvoor, ek gee dit nou elke dag water.

Tweedens, Liewe Jesus het voorwaarlik die grootste geskenk, tyd saam met jou, aan my geleen en ek weet al die ander mense in jou lewe glo dit ook. Jy is soos die eerste bloeisel in lente. Om te dink dat hierdie wêreld jou elke dag beleef is so vertroostend soos reën tydens ‘n droogte. En dit was ook ‘n rede vir my reëls en jaloesie, ek wou jou myne hou vir solank as wat ek kon. En die vrees dat ek jou kan verloor, dit wat ek probeer vermy het, het toe gebeur …

Laastens, ek mis jou. Ek mis die random kuiers wat restaurante toemaak, onbeplande avonture en jou smile by Artscape. Ek vra nie hier vir ‘n tuin van Eden nie, ek respekteer jou afwesigheid en die manier waarop jy hierdie situasie benader, maar wanneer jy eendag reg is om weer in my tuin in te stap, sal ek vrywillig die hekkie oop los …

Tot die son opkom.

Gesiggie

IMG_20170704_151710_614

Al vergeet jy alles … onthou …

1. Om net te luister.
2. Jy hoef niks aan enige iemand te bewys nie.
3. Kyk altyd op.
4. Dit is nooit te laat nie.
5. Wees die glimlag in iemand se dag.
6. Leef op die ritme van liefde.
7. Belê in herinneringe.
8. ‘n Drukkie is genoeg.
9. Niks is joune nie.
10. Elke dag is ‘n nuwe song.
11. Elke dag is ‘n avontuur, waarvoor jy nie hoef te spaar nie.
12. Wanneer die lewe druk, gaan sit onder ‘n boom en haal asem saam die blare.

IMG-20161222-WA0015

‘n Glimlag so kleurvol soos ‘n Reënboog

Daar is iets in die lug! EN nee, ek praat nie van gas wat lek nie! Dit het niks met politiek, droogtes of lae kwaliteit wyn te doen nie! Daar is iets anders! EN my HAT het geen definisie daarvoor nie, ek is nou al drie keer deur hom!

Daar is hartseer wat goud smelt. Daar is onsekerheid wat skommel. Daar is vrese wat jou bietjie laat piepie van die skrik.

EN toe, tydens ‘n blitsige samesyn vandag, stuur Liewe Jesus ‘n boodskap via ‘n engel…

Wanneer dinge lyk soos ‘n ashoop in Bothaville en uit mekaar BLIKSEM soos ‘n ou lorrie, is dit wanneer jy moet juig! Die ding is, dit gebeur om plek te maak vir die seën wat voor lê. Soos reën wat die lug was.

Gerhard! Drink jy weer alleen?! En die antwoord is … nog nie

Maar as jy mooi dink, maak dit sin. As mens is ons geneig om te hiperventileer as die “ongeluk/teleurstelling/skok” tref … dis menslik! Ek gaan nie lieg nie! Dit is fucked up en geen cliché kan dit reg/beter maak nie! En ek maak glad nie lig van hartseer, onsekerheid of vrees nie.

Maar my liewe mens, ons het nie die handleiding of plan van aksie in ons gatsak nie. Liewe Jesus bewaar hom veilig sodat jy hom nie kan inkleur dat hy soos ‘n kleuter se inkleurboek lyk nie.

Vertrou net. Glo net. Daar is immers ‘n belofte wat lei; dat na elke storm ‘n in die hemel sal glimlag.