Mpumalanga
Die son se strale seën die stofstrate van Breyten, tussen die twee rakke in Breyten Hardeware weergalm daar ‘n stilte van armoede. Siyabonga het nou al die spykers en hamers twee keer gepak. Hy werk nou al 4 jaar tussen die rakke. Hy is gebore en getoë in hierdie omgewing en is grootgemaak deur sy ouma. Alhoewel daar nie genoeg geld was vir skooltoegaan nie, was daar baie liefde.
Hy gaan sit by die toonbank, maak sy notaboekie oop, neem sy stomp potlood en sonder om te dink begin hy met sy berekening … lim┬(n→∞)〖(1+1/n)^n 〗
KwaZulu-Natal
Die son bak die polisiestasie in Bulwer goudbruin. Bhekizizwe slaan die docket toe; dis die derde diefstal vir die dag. In retrospek is dit ‘n rustige dag, maar hy weet dit kan enige oomblik verander. Hy is nog nie getroud nie; ongewoon vir ‘n man van 30. Soos gewoonlik neem hy sy middagete (een Yum Yum peanut butter broodjie sonder botter) om 12h00 en stap die heuwels van Bulwer uit.
Hy gaan sit kruisbeen op die grond. Hy neem die stuk karton wat hy opgetel het, haal die charcoal uit sy sak en begin die horison te skets in skakerings van wonder.
Noord-Kaap
Die bankstempel en verlatenheid weergalm in Danielskuil se FNB. Naledi streel elke honderdrandnoot wat deur haar vinger trippel. Sy is dankbaar vir die werk, dit hou haar sussie op skool en haar pa se skuldeisers weg. Na haar ma se dood moes sy terugkom huis toe. Sy het ‘n beurs gehad om by die Bolshoi Ballet Academy te gaan studeer, maar verantwoordlikhede kom eerste; sy vind wel vreugde om elke oggend die son te groet.
Sy staan vier uur op, vleg die balletskoene om haar enkels en strik haar gemoed met drome. Sy gaan staan in die middle van die pad, sauté en dan relevé soos wat die son se strale oor die horizon verskyn.
Wes-Kaap
Die aandster verskyn in die verte oor Graafwater. Flip sluit Agrimark se voordeur, hy kan die dag agterlaat. Hy was ‘n derde generasie boer. Sy toekoms was bepaal voor sy geboorte, maar toe kom die droogte en hy moes ander planne maak. Hy het nou ‘n goeie werk by Agrimark, dis ‘n inkomste. Wie is any way geseën om sy drome te volg, troos hy hom daagliks. Maar dis slegs saans wat hy sy wese se vlerke kan laat wapper.
Hy stap sy eenslaapkamer woonstel binne. Skink ‘n glas rooiwyn, laat Edith Piaf deur die huis weergalm terwyl ‘n enkele kers vreugde teen die mure flikker. Op die spyskaart vanaand is eend met granaat compote en aspersies. Hy gaan sit alleen by die tafel, sy siel dans deur die vertek. Terwyl hy bid, streel hy die string pêrels om sy nek.
Vrystaat
Terwyl die laatmiddagson oor Memel se kerktoring loer, wag Rita geduldig vir Hanri se klavierles om klaar te maak. Haar drie kinders is die kroon in haar hart. Hulle skedule hou haar twaalf ure per dag besig. As dit nie Wiskunde ekstra klas is nie, is dit krieket, as dit nie klavier oefening is nie, is dit Japanese klasse. Sy en Willie is nou al vir 15 jaar doodgelukkig getroud, alhoewel hy haar nie aldag verstaan nie.
Vannaand, oudergewoonte, stap sy na haar biblioteek in die spaarkamer se hoekie. Dis eintlik net ‘n boekrak, maar vir haar is dit die Biblioteca Joanina van haar hart. Sy gaan sit in die skaduwees van haar talent en soos wat sy oor die woorde begin streel, begin gedigte in haar binneste speel.
Noordwes
Die maan rol oor die Sannieshof se horizon. Luke skrop die dag en grease van sy lyf af, hy dink terug aan hoe hy hier gekom het. Sy kinderdae langs die treinspoor, die afwesigheid van ouers, die garage. Dit is sy meditasie, mens moet reflekteer. Hy trek sy enigste wit hemp aan, hy het net een, want mechanics kan nie wit dra nie. Sy swart pak versteek sy hartseer, sy das strik sy potensiaal.
Hy gaan sit agter sy Tjello en begin die snare seën met St. George Tucker se Look Down Fair Moon, trane rol oor sy wangetjies.
Gauteng
Die stof rol oor Akudzwe se gepolitoerde skoene tot by die Taxirank in Soweto, hy moet sesuur by ADT aanmeld. Hy was ‘n onderwyser in Chinhoyi, maar na die onluste moes hy ander planne maak. Dit sal sy derde skof wees in 48 uur, maar hy kla nie want dit is alles vir sy gesin, hy stuur sy hele salaris vir hulle.
Hy gaan sit, soos altyd, heel agter in die Taxi, want dan pla niemand hom nie, dit is die enigste tyd van die dag wat hy woorde kan leer. Hy slaan Hamlet se teks oop en belê die woorde diep in sy hart. Openingsaand is oor ‘n week.
Oos-Kaap
Soos die dag sy storie omvou oor die strate van Sterkstroom, loop Funeka die PEP tegemoet. Sy werk nou al vir 10 jaar as kassier, sy het aansoek gedoen vir ‘n bestuursposisie maar ‘n vrou van Port Elizabeth is ingevoer. Al wat haar motiveer is haar liefde vir die klere, dis die rede hoekom sy nog by PEP werk, want haar hande kan oor die materiaal streel. Dit sus haar tot 17h00 wanneer sy terugkeer na haar eenvertekhuisie.
Sy gaan staan voor die mannekyn wat met haar nuwe skepping pronk, en streel haar vingers oor die rou sy. Alhoewel sy haar eie patrone ontwerp, word sy geïnspireer deur Dior. Haar skeppings is net vir haarself.
Limpopo
Die sterre wemel oor Tubatsa, terwyl die naggeluide soos ‘n koor die donkerte verwelkom. Nyakallo sluit haar voordeur oop. Sy is weer rot en kaal besteel; daar lê net ‘n beker. Sy werk net Dinsdae en Donderdae by Petro, 40 kilometer buite die dorp. Sy is lief vir die familie, hulle kyk mooi na haar. Sy maak vir haar ‘n koppie koffie, want dit stil die ergste hongerte.
Sy loop haar klein tuintjie binne, haar gesig ontmoet die suiderkruis en dan, asof by die Queen se Royal Variety Performance, begin sy te sing … “Vincent, This world was never meant for one as beautiful as you.”