Niemand het my geleer, gewaarsku of voorberei nie. Dit was in geen sin/cos of tan stelling nie, ek het dit nie raak gelees in Sus en Daan nie en dit was defnitief nie in my huishoudkunde praktiese geleer nie … VOLWASSENHEID …
Dinge soos: hoe om ‘n lewenspolis te kies, hoe om jou belasting te doen, dat jy moet onthou om jou motorlisensie te hernu … Nee, ons word geleer hoe om reguit te knip met ‘n skêr.
So bevind ek my in ‘n grootmens wêreld waar elke dag nog ‘n les geleer moet word.
Donderdag, 13 September 2017.
My motorlisensie het verval. Ek staan in ‘n ry by die verkeersdepartement. Al die toonbanke is beman, dis ‘n eerste ervaring. Die tannie is hulpvaardig, dis ‘n eerste ervaring. Ek kry die lisensie sonder enige moeite, dis ‘n eerste ervaring. Ek ry huis toe. By die huis soek ek ‘n skêr. Terwyl ek sit en knip, al-om-die-rondte, besef ek … ongeag die les, tyd sal leer wanneer jy dit sal verstaan.