‘n Sagte stem …

Maandag

Ek staan in ‘n ry by Woolworths se Customer Service. Daar is ses tellers; twee is beman. Die tannie voor my blameer die regering. Die oom agter my sê hy sal môre weer kom. Vyftien minute later bereik ek die toonbank. My geduld is op. Voor my staan Dzikamai.  Oudergewoonte vra ek: “Wat beteken jou naam?” Want, een: jy het ‘n naam nodig as jy wil kla en twee: iemand het my een keer geleer sommige Afrika kulture gee hulle kinders twee name. Dzikamai antwoord “Be calm.”

Dinsdag

Ek het verslaap. My straightener gee die gees. My haarsproei is op. Ek verlang na George Clooney. My vriende is almal getroud. Ek wil nie gaan werk nie. Ek klim befok in die kar. Die petrolliggie brand. Ek stop by Engen. Sithembele kyk  agterdogtig na my terwyl ek vir hom deur die venster loer. Ek vra hom wat sy naam beteken? Hy antwoord “Hope.”

Woensdag

‘n Paar assistente ry saam met my werk toe. Ek kla oor die afwesigheid van liefde, die feit dat Nutella nou al R 50.00 is en die onsekerheid van my toekoms.  Peggie sit en luister. Op ‘n stadium vra ek vir Peggie wat haar eerste naam is. Sy antwoord “Rutendo – Faith.”

Donderdag

My ontvlugting is sigarette. Dit is my derde een in vyf minute. Ek het ‘n problem. Precious hou my geselskap. Ons werk al vyf jaar saam. Ek vermaak mense met staaltjies; sy bedien gaste met borde kos wat enige mens sal laat sterf aan cholesterol. Ek het nog altyd aangeneem dit is haar passie. Ek vra haar: “Precious, what is your passion?” Sy antwoord: “Fashion Design.” Ek vra haar wat beteken haar naam. Sy lag en sê sy sal dit vir my neerskryf. Ek lees later: “Mandionec?” -What have you seen in me.”

Vrydag

Ek kuier saam met vriende in Blouberg. Ek is de bliksem in vir my vriende; hulle het my ex genooi. Dit is nog nie eers ‘n week na die break-up nie. Ons waitress se naam is Thembi. Sy is my enigste verlossing, sý en die pizza. Ek vra haar wat is haar volle naam. Sy antwoord sy sal dit vir my later gee. Voor ons loop sit sy ‘n papier voor my neer, dit lees “Thembika – love each other.”

Saterdag

Ek is weer in Woolworths. Ek besef ek het ‘n probleem. Maar Miela is vriendlik en help my om van ‘n paar note ontslae te raak. Terwyl sy my pakkies opmaak vra ek wat haar naam beteken. Sy vertel die geskiedenis van haar naam en skryf dit vir my neer: “Miela – Achumile – Prosperity.”

Sondag

Ek het geen rigting nie. Ek wil opgee en oorgee aan die genade van onheil, so vanselfsprekend stop ek by KFC. Ek het genoeg gehad van die lewe en sy dom konyne wat bly teel. Die outjie agter die toonbank se naam is Freddy. Ek vra hom wat sy eerste naam is … hy antwoord “Abdul Fatai.” Ek sê:  Skryf sommer op die slippie. By die huis lees ek … Abdul Fatai meaning “God will show you the way.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>