Gerhard5
Image

Prins Pierewiet

Daar is ‘n pipernimpie wat rond kruip onder ‘n Husqvarna.

Daar is ‘n kleuter wat in khaki groot word tussen mielielande.

Daar is ‘n tiener wat se suster vang met ‘n tee-net om sy heup.

Daar is ‘n student wat dans met ‘n serp.

Daar is ‘n kêrel wat se jasse, ringe en mullet koppe laat draai.

Daar is ‘n man wat nie bang is om ‘n balrok te dra nie.

Hy is ‘n wese wat leef op sy eie verhoog.

Verlore Skapies

Hulle is tien aan tafel. Drie ouer as veertien, die res nie ‘n dag ouer as ses nie. Maar dit is Tia se dag. Die hele gemeenskap, kleutertuin en drie verlore skapies; Karla, Lila en ‘n mooi vreemdeling is teenwoordig vir troukoek.

“Regtig? Die kindertafel? Vir die rekord as ek vanaand net ‘n worsbroodjie en kaaskrulle kry vat ek my La Creuset ketel terug. Sy sal haar wat verbeel, my in ‘n hoek sit.” Lila is boos want 1. Sy sit in ‘n Gert Johan Coetzee aandrok by ‘n kindertafel en 2. Sy sit by ‘n kindertafel.

“Ek is seker ons sal tenminste roomys ook kry.” Die vreemdeling se poging tot ‘n grappie word sleg ontvang en Lila draai haar rug op hom.

“Nog Appeltizer?” vra Karla.

“Maak my glas vol. Dink jy sy was aspris? Sy was nog nooit mal oor jou nie.” vra Lila

“Ook nie vreeslik geheg aan jou nie, Lila. Van die dag wat Wikus jou by jool gesoen het.”

“Technicality, Karla!”

“Dit is omdat ons nog nie getroud is nie.” antwoord die vreemdeling vanuit sy verbande hoekie terwyl een kleuter om sy das swaai en ‘n ander hom met Zoo Cookies gooi.

“Bog man, Susan en Herman is nie getroud nie en hulle sit by Lize se tafel.”

“Hulle is verloof.” bevestig die vreemdeling.

“Wil jy vir my sê ons is verban tot die hoekie van inkleur kryte omdat ons nie in ‘n verhouding is nie. Dit is diskriminasie!” sê Lila boos.

“Nee dit is ons realiteit.” tart die vreemdeling vir Lila en verklaar oorlog teenoor die kleuter met die koekies. Hy skiet nou terug met Smarties.

“Hoe durf TIA! Ek ondersteun my hele lewe nog al haar mylpale. Opgewonde saam gewag dat Wikus haar moet raaksien op kampus, in spanning gewag dat hy haar moet vra om te trou, opgewonde haar kombuistee bygewoon. Dit alles en ek is nie eers ‘n strooimeisie nie en ek sit by die kindertafel? Fok haar!”

“So dit is eindlik jou issue? Jy is ongelukkig omdat jy nie soos ‘n lammetjie agter mamma aan huppel nie?” hy daag Lila uit soos ‘n skaaphond.

“Freud! Bepaal jou by jou eie Astro geveg. Karla, kom ons gaan kry iets sterkers om te drink.”

Die oomblik toe Lila deur die saal beweeg is dit asof almal in haar skadu weg smelt. Sy skitter vanaand soos ‘n verloofring. Haar rok, lipstiffie en houding is haarfyn beplan. By die kroeg bestel sy ‘n bottel franse shampanje.

“Jammer tannie, hier is net JC Le Roux?” sê die sewentien jarige agter die kroeg.

“Tannie! Wie is jou tannie?” weergalm haar stem.

“Jammer, tannie … ek bedoel mevrou.”

“Ek is nie jou tannie nie. Nog minder ‘n mevrou. Lyk dit of ek getroud is? Of ek deur ‘n man gedefinieër moet word?”

Die seun agter die kroeg is so witgeskrik soos wol. Susan gewaar die insident en kom groet vinnig.

“Goeie naand hartjies, is vanaand nie feestelik nie? Hoekom staan julle so alleen by die kroeg soos skapies by ‘n krip? Kom sit by ons.”

Soos gehoorsame skape volg hulle twee die herder. Daar is eintlik nie plek vir ‘n siel aan die tafel nie, maar almal groet vriendelik en skuif styf teen mekaar soos skape in ‘n drukgang.

“Pragtige rok, Lila!” groet Lize. Haar woorde gevul met jaloesie.

“Dankie, Lize. Tenminste pas my klere no … Hoe gaan dit met klein Daniël?” Lize hoor net Lila se laaste sin.

“Ag hy word so mooi gróót. Hy sit by die kindertafel. Speel te lekker saam Wikus se broer.”

“Wie is Wikus se broer?” vra Karla en Lila verbaas.

“Die ouer man by die kindertafel. Het julle nie ontmoet nie?” vra Susan.

“Soort van.” antwoord Lila en Karla soos ‘n tweeling.

“Ja nie maklik om alleen te wees nie. Het hom al aan elke denkbare vroumens op die dorp voorgestel maar gun belangstelling nie. Seker ‘n mo …” Herman se sin word voltooi in almal se gedagtes.

“Herman, net omdat iemand nie getroud is en nie wil teel soos konyne nie, maak dit hulle nie skeef of malaats nie.” skel Lila.

“Wel, dis nie normaal nie!”

“Wat is normal, Herman? Om te trou omdat Pappa en Mamma dit verwag? Omdat jy besef niemand gaan ooit uit hulle eie lief wees vir jou nie? Nou steel jy iemand anders se drome terwille van jou eie geluk?”

“Ek en Susan is lief vir mekaar.”

“Regtig! Susan? Het jy jou werk as argitek bedank omdat dit moeilik is of het jy net besef dat Herman nooit met ‘n vrou slimmer as hy sal trou nie?” op hierdie oomblik kyk die hele tafel twaalf asook tafel elf vir Lila.

“Lila. Ek dink jy en Karla moet weer gaan sit by julle tafel. Nagereg word bedien.” Susan se trane lê vlak soos haar gewese drome.

Karla staan op. Lila bly sit.

“Ek is jammer, Susan. Ek is bly vir jou en Herman. Maar voor ek gaan wil ek net een ding vir julle sê; nog altyd vier ek elke van julle mylpale saam julle. En nou, net omdat ek nie ‘n diamant aan my vinger het nie moet ek afgesonder word? Fok julle.”

“Wel as jy jou soos ‘n kind wil gaan staan en gedra … is dit gepas.” Lize se oë is koud.

Lila staan op en stap die saal uit. Buite groet die maanlig haar gesig. Sy vou haarself toe in haar arms en wens sy het die bypassende pashmina ook gekoop. Sy loop tot by die fonteintjie voor die kapel. Sy asem die aandlug in.

“En as jy so alleen hier staan?” die stem agter haar is kalm, ferm en só vertroostend soos weiding op die horison.

Sy draai stadig om. Dis die vreemdeling.

“Het Karla jou gestuur?”

“Nee sy eet troukoek.”

“Tipies! Was nog nooit een vir konfrontasie nie.”

“Sal jy met my dans?”

“Nee, ek is te kwaad.”

“Iemand moes hulle op hulle plek sit. Dans met my.” die vreemdeling se woorde breek deur Lila se kraal.

“Ek gaan nie terug saal toe nie.”

“Ons dans net hier.”

Hy steek sy linkerhand uit. Trek haar tot teen sy bors. Sy is rustig, veilig en verlore. Saggies begin hy “Moon River” te neurie terwyl die maan op die horison wei.

‘n lewe sonder Brood

“Botter, mamma tel jou 12h00 weer op. Moenie huil nie, kyk daar is ‘n klimraam.”

Die verbouereerde kleuter met sy Spiderman hemp loop na die klimraam, hy kyk rond en spring soos sy held en mis die hoogste raam net-net. Hy val en smelt in ‘n see van trane.

“Moenie huil nie! Batman kan ook nie vlieg nie.” ‘n Blondekop Batman trek vir Botter op en gee vir hom ‘n drukkie.

“Batman troos nie vir Spiderman nie!”

“Hoekom nie? Super Heroes behoort vir mekaar uit te kyk. My naam is Brood, sal jy my maaitjie wees?”

***

Meel droog vir Botter af en trek sy hemp oor sý kop.

Stilte.

“Wil jy vannaand die nuwe Spiderman fliek kyk?” vra sy terwyl sy sý hare kam.

Stilte.

***

“Komaan, moenie ‘n sissie wees nie!”

“Jy weet ek het hoogtevrees!” Brood staan bo die waterval, sy vrese gis in sy bors. Dit is moer hoog.

“Sissie!”

Brood maak sy oë styf toe en spring.

“Sien, dis pret! Kom ons gaan weer.”

“G-g-g-l-l-lad n-n-nie!”

***

Water staar na die fotos op haar spieëltafel … vakansie fotos, trou fotos, doop fotos …’n hele leeftyd reflekteer in haar oë. Sy gaan rooi lipstiffie aansit, dit is sy gunsteling. Sy hoor Krummel in die gang speel.

“Krummel, wil jy vandag by pappa gaan kuier?” Water vries in haar woorde. “Dit is só mooi dag!”

Stilte.

***

“Botter, dink jy Meel sal met my kuis?”

“Sissie!, hoekom?”

“Sy is mooi! So mooi sóós sneeu.”

“Dit sneeu nie in Hoopstad nie.”

“Okay, so mooi sóós die maan.”

“Meisies is gross.”

***

Meel sit met ‘n lepel groente puree voor Botter. Dit is so bleek sóós haar lewe deesdae. Die dokter sê sy moet bietjie uitkom. Mense ontmoet, maar hoe? Wie gaan na hom kyk?

“Broem broem! Hier kom die treintjie!”

Sy wou sý kinders groot maak. Die dokter sê dis moontlik.

***

“Ek gaan jou bliksem!”

“Botter, kalmeer! Sy het my gesoen.”

“Ek gee nie om nie! Jy sal nie kan loop as ek met jou klaar is nie!”

“Batman en Superman fight nie oor girls nie!”

“Ons is nie meer vier nie! Word GROOT! Jy is DOOD!”

***

Water staan voor die speelskool se hek en kyk hoe Krummel aan gehardloop kom, sy Superman hempie dra hy nou al die hele week.

“Mamma, mamma! Raai wat? Ek het vandag ‘n maaitjie ryker geword. Sy naam is Sout. EN Mamma, hy hou ook van super heroes. Kan hy vanmiddag by my kom speel?”

“Natuurlik my kind. Sy mamma sal net eers moet instem.”

Water staar na haar klein bondeltjie vreugde. Hy is die enigste rede wat haar keer om in trane uit te bars.

***

“DOWN DOWN DOWN!!!!” slaan Botter op die tafel.

“Jy weet ek kan nie bier drink nie!”

“Barman, nog ‘n rondte!”

“Botter, hoe gaan ons by die huis kom?”

“Man, ons bel vir Meel of Water!”

“Hulle swot!”

“Vir daardie negatieweteid moet jy mý glas down!”

***

Meel was die skottelgoed. Haar hande word klonte in die seep.

“Botter, wil jy vanmiddag vir Water en Krummel gaan kuier?” haar stem weergalm deur die kombuis.

Stilte.

***

“Botter, wat van hoogtevrees verstaan jy nie?”

“Dit is nou te laat vir omdraai, jy sal moet spring?”

“Hoekom praat jy my altyd in die situasies in?”

“Sissie! Nou bly jy dan maar op die brug. One … two … three bungy.”

***

Water maak die deur oop. Die gesigte is sóós ‘n vloed oor haar hart.

“Bly om julle te sien.” haar trane lê vlak. Krummel, kýk wie het kom kuier. Kom stel vir Sout, JAMMER ek bedoel Iron man, voor. Hy het ‘n nuwe maaitjie.”

Stilte.

***

“Ek moet huis toe gaan.”

“O, mamma het jou op ‘n kort ketting.”

“Jy is nét jaloers!”

“Op wat?! ‘n Vrou?”

“Wanneer vra jy vir Meel om te trou?”

“Man, daar is nog baie tyd! Komaan, een vir die pad. Dan kyk ons of die Batmobile vir Spinderman kan weg ry.”

Die straatligte flits soos satelliete verby hulle. Die adrenalien is petrol vir die pret. Die draaie is die lekkerste. Daar is net een slag. Die volgende ligte wat flits is rooi en skree.

***

Water skink vir Meel ‘n koppie hartseer.

“Hoe gaan dit met jou?” vra Water terwyl sy die koppie aan Meel oorhandig.

“Ek kan nie meer nie! Hy is nie meer die sterk man waarop ek verlief geraak het nie. Tenminste het Brood met jou getrou.”

“Jy weet daar is plekke wat na Botter kan omsien.”

“Ek is nog steeds lief vir hom.” Meel se trane val op die vloer sóós iets deur ‘n sif.

“Ek weet, ek is steeds lief vir Brood. Ons was vanoggend by sy graf.”

“Ek is regtig jammer.”

“Dit was niemand se skuld nie. Tenminste weet ons nou Batman en Spiderman was nie meer as mens nie.” Water se trane stort in haar koppie terwyl sy deur die venster staar na ‘n resep vir genade.

Botter sit buite op die stoep. Die winterson gly teen sy vang en skitter teen sy rolstoel. Voor hom baljaar Superman en Iron Man op die klimraam.

lente is ‘n afkorting vir ‘n nuwe begin

IMG_20160901_175052

“Lisa, ek is bang! My buurvrou huig iets vreeslik! Moet ek gaan klop? Moet ek die ambulans bel? Die polisie? Dink jy ek gaan moet getuig soos die Oscar hofsaak?” Lente se woorde bewe oor haar iphone.

“Ag toe nou Lente moet nou nie met jou preutsheid hier kom staan en kerkmens hou nie. Dit is goed op haar ouderdom.” daar is ‘n onderdrukte giggel in Lisa se stem.

“Sy is veertig! Vir haar op haar ouderdom wil kom staan en sestien hou. Om te dink ek het tien minute gelede suiker gaan leen.”

“Is dit oom Willem?

“Indien dit hy is, gaan ek nie meer suiker by een van my twee bure kan leen nie.”

“Nee wat! Ons sal vir jou ‘n kêrel van klei moet bou. Hoe lank is dit nou al? ‘n Jaar?”

“Drie jaar en ses maande.”

“Te lank! Wat maak jy Saterdag? Riaan se broer is in die dorp.”

“Kry daardie idee uit jou kop uit. Ek fokus nou op myself!”

“Ek gaan vir Belinda bliksem! Watter boek het sy jou nou weer laat lees?”

“How to find the season within you.”

“Snert! Tel jou vier uur op.”

Lente druk die foon dood. Daardie nag kan sy nie slaap nie, nie oor die sweep geluide, maar oor Winter. Haar eerste en enigste liefde. Die één wat haar voete onder haar uit geduik het, die één wat haar geleer het van die suiderkruis, die één wat gesteelde daisies in haar tuin geplant het, die één wat wat vir haar in die Karoo vertel het sy is die mooiste vrou ooit.

***

Saterdag klop Lisa aan haar voordeur.

“Jy is vroeg!” skel Lente met die tandeborsel in haar mond.

“Gaan jy so?”

“Wat is fout?”

“Gehoop jy sal ten minste ’n kam deur jou kop trek! Maar moenie stres nie, ek sal jou red van jouself.” twintig minute later staar Lente in die spiëel.

“Dit lyk nie soos ek nie.”

“Nou hoe lyk Lente?” vra Lisa.

“Nie asof ek ontsnap het uit ‘n sirkus nie.”

“Bog man! Die eye liner bring jou oë tot reg. Kom nou ons is laat!”

***

Hulle stop voor die huis. Lisa loop voor en ken vanselfsprekend almal. Sy groet vir Riaan en stel ‘n bul van ‘n man langs hom aan Lente voor en verdwyn in die agtergrond. Lente vergeet onmiddelik die man se naam en wens sy was snoesig tuis met ‘n bak fudge. Die vreemdeling kyk Lente op en af en sy oë vind ‘n hawe in hare. Vlinders sprei egalig hulle vlerke in haar maag.

“Aangename kennis dame. En wat maak so skone engel so ver van die poorte.”

Lente begin hard en diep vanuit haar maag lag.

“Het daardie sin al ooit vir jou gewerk?”

“Ons sal maar moet wag en sien …” sy geheimsinnige glimlag onthul twee dimpels. Lente is verlore.

Daardie aand leer sy hoe om vleis medium rare te braai, Afrikaanse musiek te waardeer en hoe ‘n paar dimpels jou kan toor. Net voor twaalf verdwyn sy stilletjies in die skaduwee van die vuur.

***

Die volgende dag lui haar foon haar wakker. Sy is só bly dit is Sondag.

“Jy het nie eers gegroet nie. Wat sal jou ma sê?”

“Wie praat nou?” sy is nog vas aan die slaap.

“Hoeveel mans mense het jou nommer? Wat sal jou pa sê?”

“Hy sal meer bekommerd wees oor ‘n man wat sý dogter teister.”

“Lisa het jou nommer vir my gegee. Jy is so vroeg weg, hoop nie ek het jou afgeskrik nie?”

“Ek skrik nie so maklik nie.” die leuen bewe tot binne haar bors.

“Wel dan, staan op, trek aan. Ek kry jou oor ‘n uur by die Moederkerk.” hy groet vriendelik en lui af voor sy iets kan sê.

Terwyl sy na die kerk stap sien sy die eerste tekens van ‘n nuwe seisoen. Die wind dans deur haar hare en laat haar wangetjies pienk van opwinding. Hy wag vir haar by die hek, geduldig en gelukkig, sy nader hom soos die beloofde land.

“Jy vat ook maar jou tyd, né?” sy dimpels dans skaamteloos op sy gesig.

***

Daardie week dink sy die een verskoning na die ander uit. Hy nooi haar vir ete, ‘n fliek, ‘n roomys. Elke keer het sy ‘n nuwe verskoning.

“Wat is fout met jou? Die man is ‘n catch! Sy soort kweek jy nie in elke tuin nie!” skel Lisa oor die foon.

“Nou trou jy dan met hom.”

“Wie praat van trou? Jy loop alweer ‘n perd vooruit. Hy hou van jou. Bel hom, nooi hom vir koffie.”

“Ek loop nie agter ‘n man aan nie.”

“Ja, jy hardloop vir hulle weg.”

Sy sit die foon neer. Boos van hoe goed haar vriendin haar ken, sy besluit om Lisa verkeerd te bewys en skakel sy nommer. Hy tel op maar bly tjoepstil. In die agtergrond hoor sy net die nag geluide wat haar kinderagtigheid uit lag.

“Hello? Iemand daar?” sy is onmiddelik spyt oor haar besluit.

“Maak oop jou voordeur.” sy stem land saggies op haar hart.

“Hoe nou? Sien ek het geweet daar is iets fout met jou. Hoe lank skuil jy agter die bos? My pa het my op ses leer skiet! Tannie Fransie het ‘n sweep. Ek bel die polisie.”

“Meisiekind, maak asseblief jou voordeur oop. Lisa het gesê jy is by die huis.”

Lente stap voordeur toe. Sy is rasend bang van die adrenalien. Sy maak die deur oop. Hy soen haar saggies op die wang en stap met selfvertroue die huis binne en vul die vertek met vrede. Hy sit ‘n bottel wyn op die tafel neer en onthul ‘n piekniek mandjie met trots.

“Ek maak solank ‘n vuurtjie. Hoop jy eet braaibroodjies met uie. Jy het ‘n braaier, né?” sy woorde bot bloeisels in Lente se hart.

Cupcakes are Muffins that Believed in Miracles

Once upon a time, in a land far far away called Pan, there lived a muffin called Buttermilk.

Her family tree could be traced back to 4 cups cake flour, 4 cups white sugar, 1 ½ cups cocoa powder, 20 ml baking powder in 2 cups buttermilk, 2 cups sunflower oil, 10 ml vanilla essence (but ultimately she was the product of the Baker) and 2 cups boiling water but she believed that she was different.

Every day her family and the other muffins turned up the heat by 250°C testing her strength, whisked out all (what they considered) her lumps, lined her cup tray with (what they considered) the truth, not even allowing her a teaspoon of authenticity. The Baker allowed them to do this for 20 minutes under their 180°C rule, testing her constantly with skewers to see if she would conform. She didn’t and even though she wasn’t voted Miss Blueberry or Poppy Seed she kept on believing in a miracle.

Why would the Baker allow this?

See, the Baker believed in one thing – it takes extreme heat to produce a masterpiece. His vision for Buttermilk was perfectly clear, even though he never shared his secret ingredient with Buttermilk. He took his time sourcing 200 grams of the richest chocolate and 50 ml of the finest cream and melted it into her destiny.

He took all her daily challenges and slowly added 500 grams of butter, 2 cups of icing sugar, 50 ml cream and 20 ml vanilla essence to form the icing on the cake.

And then one day the Baker lifted her gently and pierced her heart with a knife. She knew it! She was just like them. But then, suddenly, he started filling his betrayal with the softest Ganache and decorated her scars with the most decadent frosting.

The Baker stood back and admired his work, it was beautiful … a pure Miracle.

vertroosting so salig soos ‘n blokkie fudge

Bestandele

2 koppies Suiker
500 ml Perfeksionistiese ousus
125 g Botter
50 g Liefde
1 blik Kondensmelk
1 teelepel Vertroosting

Metode

Nooi die familie na die kombuistafel
Pak al die bestandele en kombuisgerei in netjiese rye, kry ‘n liniaal as jy nie weet hoe lyk ‘n ry nie
Smelt botter oor suiker in ‘n mikrogolfvaste bak vir 2 minute
Roer deur
Gooi kondensmelk in en roer deur
Vat ‘n teelepel en skraap die laaste bietjie uit om self te geniet
Sit mikrogolfvaste bak in mikrogolf vir 10 minute, roer elke 2 minute
Gooi in bak en laat afkoel

Sny in blokkies en bedien met liefde

Ystervarkie ontvlugting

SponsKoek

Bestandele

Sif:
3 kilogram kinderlike onskuld
2 koppies meel
4 teelepels bakpoeier
knippie sout

Kook:
½ koppie kookolie
½ koppie verbeelding
½ koppie melk
½ koppie water
Laat afkoel.

Metode

Klits:
Verbeel jou jy is saam James Martin in die kombuis
4 eiers en 1 ½ koppie suiker baie goed saam
Vou meel goed by eier mengsel
Voeg gekookte mengsel bietjie bietjie op ‘n slag by en klop goed
Mengsel genoeg vir die grootste vierkantige pan in jou kas
Bak 35 min of tot mengsel gaar is by 180 grade C

Sny koek in blokkies

Stroop

Kook:
875 ml Suiker
450 ml Water
250 ml Kreatiwiteit
50 ml Botter
75 ml Kakao
5 ml Vanielje geursel
Jou Ma se ouma se trousseau tafeldoek
Gemaklike kerspit kussings
Jou Ma se ouma se trousseau Royal Albert teekoppies en bordjies
‘n Coke Krat
Ronde bedtafel blad

Metode

Verhit suiker, water, botter , kakao en geursel tot kookpunt
Verwyder van stoof en voeg geursel by
Doop sny vir sny in warm stroop
Rol koek in klapper

Plaas Coke krat in die mooiste hoek in jou tuin, boom of sitkamer
Sit blad op krat
Gooi tafeldoek oor
Strooi kussings om die tafeltjie
Plaas teekoppies en bordjies met liefde neer
Maak ‘n lekker koppie rooibos tee … of Champagne
Soek die mooiste roos/varing/klip in die tuin en plaas dit op jou gas se plek

En ontvlug na ‘n wêreld waar onskuld broei.

Sjokolade vir die siel

Bestandele:

1 koppie suiker
4 eetlepels kakao
1 pakkie sigarette
‘n knippie kremetart
‘n knippie sout
‘n halwe koppie water
1 eetlepel botter
‘n bottel rooiwyn, maak dit twee
‘n halwe teelepel vanielje essens
1 ‘n lighter
‘n bottel rooiwyn, maak dit drie
En geen gewete

Voorbereiding:

Skink ‘n glas wyn
Steek ‘n vuur aan en rook eers ‘n sigaret
Meng die suiker, kakao, kremetart, sout saam
Skink nog ‘n glas wyn
Kook bestandele 5 minute lank in die water
Roer die botter in en laat dit effens afkoel
Skink nog ‘n glas en bel ‘n vriendin of jou ma
Voeg die vanielje essens by

Bedien warm op roomys, poeding of Katelkaap se boudjies.

 

 

BASAAR

Maandag
Elkeen van hierdie sjokolade koeke is verseker tydbomme, met die hele weeshuis se asems wat prewel van hartseer. Niemand het my ooit geleer hoe mens die plastiek só kry nie. Kom daarvan as jy meer tyd onder die paviljoene spandeer as in Juffrou Saartjie se klas. Ek wonder hoe gaan dit met Johannes? Bar-one was sy gunsteling. Elke koek bevat 20 stafies, genoeg brandewyn en twee koppies trane. Ek mis hom!

Dinsdag
Jy mis een donnerse biduur en hulle deel jou in saam met die koeksuster-kommissie. Almal oor sestig. Dink hulle ek is oor die muur? Fokkers gee in elk geval nie om nie, hou basaar maar nie ‘n sent bereik één sonder ‘n kombers nie. Vra jou nie eers of jou hand na laas jaar herstel het nie! Niemand kon die oorsaak vas stel nie, maar ek is blameer omdat ek nie my bril wou dra nie. Ek moet seker vir Helga bel, sy bewaar daardie resep soos goud. Mens sou sweer dit was haar ouma se geheime wapen om die konsentrasie te vlug. Ek moet by die bos kerk aansluit.

Woensdag
Ek is so trots op Monique, sy is definitief Klein Jaap se kind. Kan nie 1% van Rika in haar sien nie. Fliks, slim en ‘n ware entrepreneur. ‘n Jonger weergawe van my? Beslis.  Sy sal eendag die ster bakster van die basaar wees, enige boer se droomvrou. Dit was haar idee om Marta se kinders in te span om te help klapperys maak. Hulle werk vir vyftig sent vir elke vyftig wat hulle bak. Hoop net nie hulle gebruik dit vir gom of spirits nie. Ek het Monique ‘n tiende van die totale verkope belowe, so sy slaan die sweep. Ek is so trots.

Donderdag
Die dag toe ek met Theuns trou, het skoonma my geleer dat mevrou Dominee net opdaag, smile en bietjie trifle eet. Maar nie op hierdie stukkie verlore aarde nie, hier gun niemand jou ‘n happie sonde nie. Ek sien so uit na Marietjie se trifle! Elke mondvol is ‘n drukkie vir die hart. Ek wonder hoe verwerk sy Buks se dood? Tragies, regtig! Ek het vir Theuns gesê Buks is allergies vir bye maar waar het jy nou gehoor van ‘n Dominee wat luister?  Nee Buks moet die korf uit die kerktoring verwyder, hy is … was mos die koster. Waar is Rika se pannekoek resep, haar verwyte lê diep as jy nie die regte hoeveelheid Rum by die beslag gooi nie. Ek is nou lus vir trifle.

Vrydag
Ek kan nie glo hoeveel gemors een mens kan opgaar nie. Gun wonder hulle het die plaas verloor nie. Ons almal het gedink Issie het dit uit gesuip maar klaarblyklik is Grieta ‘n hoarder. Who knew? Eintlik moet ek nie kla nie. Sy maak eintlik die lewe vir my maklik, die goed gaan vlieg van die tombola tafel af. Dalk moet ek net eers vir my ‘n paar goedjies op sig neem. Is dit verkeerd? Sy het meer as genoeg en die spul gaan in elk geval nie ‘n Martini stel waardeer nie. Ek is nou dors!

Saterdag
Elke jaar waarsku die konsistorie my om die dames met ‘n ysterhand te stuur, maar ‘n eersteklas kaartjie na die poorte vir die een wat hulle in toom kan hou. Ons maak eintlik geen wins nie maar dit hou hulle besig terwyl ons  rugby op Loftus kyk. Snaaks dat hulle teen die tyd nog nie besef daar is geen man by die basaar nie. Nie heeltemal waar nie, Stoffel is daar, maar hy tel nie. Hy sal die wors braai en ‘n ogie hou op die kinders in die springkasteel. Ek sal vir hom moet bid.

Sondag
Ja nee kyk! Dit sal jou leer om aan ‘n NG kerk te behoord en om te dink hulle het my bos kerk geoordeel. Daar is soveel weergawes, maar Lieda het gesê dit het begin by die tombola tafel. Grieta en Bibi het gestry oor ‘n Martini stel, gevul met die heilige gees stamp Grieta vir Bibi dat sy deur die lug trek soos een wat vir goud gaan by olimpiese spele. Met al die chaos hou Joey nie ‘n oog op die pannekoek nie en die olie vat vlam. Neeltjie probeer toe die vlamme smoor met Fransie se lelike doilies, maar sy het nie besef dit is van Spar en Checkers sakkies gemaak nie. Die hele pannekoek tafel asook Petro se koeksuster tafel was binne vyf sekondes aan die brand. Lizzie, die enigste een wie se noodhulp sertifikaat hernu is na laas jaar se basaar was so besig om Jaap se jongste af te stry oor ‘n blokkie klapperys dat sy nie eers vir mevrou dominee sien verstuk in haar trifle nie. Beide moet dalk hulle Weigh-less lidmaatskap kanselleer. Stoffel was in die springkasteel. Die wors was die jaar weer verkool.

Hele saal was vernietig in 10 minute. Brandweer is seker nou nog op pad. Hierdie land gaan so agter uit! Ek is net dankbaar vir Hettie se legendariese Bar-one sjokolade koek wat sy Vrydag afgelewer het. Ek moet haar bel om dankie te sê.

Pannekoek breek soms jou hart

Bestandele:

Nat
Daag net op met ‘n brandewyntjie en twee liter coke
2 eiers
100ml olie
500ml water
300ml genade
250ml melk
En een koppie onderdrukte liefde
1 teelepel vrees vir die papegaai
Sopie brandewyn, gebruik ‘n ander bottle. Spaar die bottle wat jy saam gebring het vir die vrede, liefde en pyn

Droog
500ml meel
2t bakpoeier
Sout na smaak en ‘n vrienskap wat jou hart laat smelt

Metode:

Voeg nat bestandele bymekaar en meng dit met droë bestandele
Laat staan vir 10min soos die begeertes wat kom le in jou hart
Skink eerste brandewyntjie
Beslag bedien 10 of 15 of 24 … hang af hoe synnig jy is
Skink ‘n brandewyntjie, maak dit ‘n dubbel
Sit stoof aan
Gooi olie in die pan, moenie die huis afbrand nie
Jy weet wat om verder te doen en as jy nie weet nie behoord jy nie pannekoek te maak nie

Vulsel is opsioneel, kry jou eie resep, Google is almal se vriend. Maar om hom/haar of selfs die papegaai te verlei; neem ‘n Barone, rol die pannekoek daar in en bedien met trane in jou oë.