“Lisa, ek is bang! My buurvrou huig iets vreeslik! Moet ek gaan klop? Moet ek die ambulans bel? Die polisie? Dink jy ek gaan moet getuig soos die Oscar hofsaak?” Lente se woorde bewe oor haar iphone.
“Ag toe nou Lente moet nou nie met jou preutsheid hier kom staan en kerkmens hou nie. Dit is goed op haar ouderdom.” daar is ‘n onderdrukte giggel in Lisa se stem.
“Sy is veertig! Vir haar op haar ouderdom wil kom staan en sestien hou. Om te dink ek het tien minute gelede suiker gaan leen.”
“Is dit oom Willem?
“Indien dit hy is, gaan ek nie meer suiker by een van my twee bure kan leen nie.”
“Nee wat! Ons sal vir jou ‘n kêrel van klei moet bou. Hoe lank is dit nou al? ‘n Jaar?”
“Drie jaar en ses maande.”
“Te lank! Wat maak jy Saterdag? Riaan se broer is in die dorp.”
“Kry daardie idee uit jou kop uit. Ek fokus nou op myself!”
“Ek gaan vir Belinda bliksem! Watter boek het sy jou nou weer laat lees?”
“How to find the season within you.”
“Snert! Tel jou vier uur op.”
Lente druk die foon dood. Daardie nag kan sy nie slaap nie, nie oor die sweep geluide, maar oor Winter. Haar eerste en enigste liefde. Die één wat haar voete onder haar uit geduik het, die één wat haar geleer het van die suiderkruis, die één wat gesteelde daisies in haar tuin geplant het, die één wat wat vir haar in die Karoo vertel het sy is die mooiste vrou ooit.
***
Saterdag klop Lisa aan haar voordeur.
“Jy is vroeg!” skel Lente met die tandeborsel in haar mond.
“Gaan jy so?”
“Wat is fout?”
“Gehoop jy sal ten minste ’n kam deur jou kop trek! Maar moenie stres nie, ek sal jou red van jouself.” twintig minute later staar Lente in die spiëel.
“Dit lyk nie soos ek nie.”
“Nou hoe lyk Lente?” vra Lisa.
“Nie asof ek ontsnap het uit ‘n sirkus nie.”
“Bog man! Die eye liner bring jou oë tot reg. Kom nou ons is laat!”
***
Hulle stop voor die huis. Lisa loop voor en ken vanselfsprekend almal. Sy groet vir Riaan en stel ‘n bul van ‘n man langs hom aan Lente voor en verdwyn in die agtergrond. Lente vergeet onmiddelik die man se naam en wens sy was snoesig tuis met ‘n bak fudge. Die vreemdeling kyk Lente op en af en sy oë vind ‘n hawe in hare. Vlinders sprei egalig hulle vlerke in haar maag.
“Aangename kennis dame. En wat maak so skone engel so ver van die poorte.”
Lente begin hard en diep vanuit haar maag lag.
“Het daardie sin al ooit vir jou gewerk?”
“Ons sal maar moet wag en sien …” sy geheimsinnige glimlag onthul twee dimpels. Lente is verlore.
Daardie aand leer sy hoe om vleis medium rare te braai, Afrikaanse musiek te waardeer en hoe ‘n paar dimpels jou kan toor. Net voor twaalf verdwyn sy stilletjies in die skaduwee van die vuur.
***
Die volgende dag lui haar foon haar wakker. Sy is só bly dit is Sondag.
“Jy het nie eers gegroet nie. Wat sal jou ma sê?”
“Wie praat nou?” sy is nog vas aan die slaap.
“Hoeveel mans mense het jou nommer? Wat sal jou pa sê?”
“Hy sal meer bekommerd wees oor ‘n man wat sý dogter teister.”
“Lisa het jou nommer vir my gegee. Jy is so vroeg weg, hoop nie ek het jou afgeskrik nie?”
“Ek skrik nie so maklik nie.” die leuen bewe tot binne haar bors.
“Wel dan, staan op, trek aan. Ek kry jou oor ‘n uur by die Moederkerk.” hy groet vriendelik en lui af voor sy iets kan sê.
Terwyl sy na die kerk stap sien sy die eerste tekens van ‘n nuwe seisoen. Die wind dans deur haar hare en laat haar wangetjies pienk van opwinding. Hy wag vir haar by die hek, geduldig en gelukkig, sy nader hom soos die beloofde land.
“Jy vat ook maar jou tyd, né?” sy dimpels dans skaamteloos op sy gesig.
***
Daardie week dink sy die een verskoning na die ander uit. Hy nooi haar vir ete, ‘n fliek, ‘n roomys. Elke keer het sy ‘n nuwe verskoning.
“Wat is fout met jou? Die man is ‘n catch! Sy soort kweek jy nie in elke tuin nie!” skel Lisa oor die foon.
“Nou trou jy dan met hom.”
“Wie praat van trou? Jy loop alweer ‘n perd vooruit. Hy hou van jou. Bel hom, nooi hom vir koffie.”
“Ek loop nie agter ‘n man aan nie.”
“Ja, jy hardloop vir hulle weg.”
Sy sit die foon neer. Boos van hoe goed haar vriendin haar ken, sy besluit om Lisa verkeerd te bewys en skakel sy nommer. Hy tel op maar bly tjoepstil. In die agtergrond hoor sy net die nag geluide wat haar kinderagtigheid uit lag.
“Hello? Iemand daar?” sy is onmiddelik spyt oor haar besluit.
“Maak oop jou voordeur.” sy stem land saggies op haar hart.
“Hoe nou? Sien ek het geweet daar is iets fout met jou. Hoe lank skuil jy agter die bos? My pa het my op ses leer skiet! Tannie Fransie het ‘n sweep. Ek bel die polisie.”
“Meisiekind, maak asseblief jou voordeur oop. Lisa het gesê jy is by die huis.”
Lente stap voordeur toe. Sy is rasend bang van die adrenalien. Sy maak die deur oop. Hy soen haar saggies op die wang en stap met selfvertroue die huis binne en vul die vertek met vrede. Hy sit ‘n bottel wyn op die tafel neer en onthul ‘n piekniek mandjie met trots.
“Ek maak solank ‘n vuurtjie. Hoop jy eet braaibroodjies met uie. Jy het ‘n braaier, né?” sy woorde bot bloeisels in Lente se hart.
