“Botter, mamma tel jou 12h00 weer op. Moenie huil nie, kyk daar is ‘n klimraam.”
Die verbouereerde kleuter met sy Spiderman hemp loop na die klimraam, hy kyk rond en spring soos sy held en mis die hoogste raam net-net. Hy val en smelt in ‘n see van trane.
“Moenie huil nie! Batman kan ook nie vlieg nie.” ‘n Blondekop Batman trek vir Botter op en gee vir hom ‘n drukkie.
“Batman troos nie vir Spiderman nie!”
“Hoekom nie? Super Heroes behoort vir mekaar uit te kyk. My naam is Brood, sal jy my maaitjie wees?”
***
Meel droog vir Botter af en trek sy hemp oor sý kop.
Stilte.
“Wil jy vannaand die nuwe Spiderman fliek kyk?” vra sy terwyl sy sý hare kam.
Stilte.
***
“Komaan, moenie ‘n sissie wees nie!”
“Jy weet ek het hoogtevrees!” Brood staan bo die waterval, sy vrese gis in sy bors. Dit is moer hoog.
“Sissie!”
Brood maak sy oë styf toe en spring.
“Sien, dis pret! Kom ons gaan weer.”
“G-g-g-l-l-lad n-n-nie!”
***
Water staar na die fotos op haar spieëltafel … vakansie fotos, trou fotos, doop fotos …’n hele leeftyd reflekteer in haar oë. Sy gaan rooi lipstiffie aansit, dit is sy gunsteling. Sy hoor Krummel in die gang speel.
“Krummel, wil jy vandag by pappa gaan kuier?” Water vries in haar woorde. “Dit is só mooi dag!”
Stilte.
***
“Botter, dink jy Meel sal met my kuis?”
“Sissie!, hoekom?”
“Sy is mooi! So mooi sóós sneeu.”
“Dit sneeu nie in Hoopstad nie.”
“Okay, so mooi sóós die maan.”
“Meisies is gross.”
***
Meel sit met ‘n lepel groente puree voor Botter. Dit is so bleek sóós haar lewe deesdae. Die dokter sê sy moet bietjie uitkom. Mense ontmoet, maar hoe? Wie gaan na hom kyk?
“Broem broem! Hier kom die treintjie!”
Sy wou sý kinders groot maak. Die dokter sê dis moontlik.
***
“Ek gaan jou bliksem!”
“Botter, kalmeer! Sy het my gesoen.”
“Ek gee nie om nie! Jy sal nie kan loop as ek met jou klaar is nie!”
“Batman en Superman fight nie oor girls nie!”
“Ons is nie meer vier nie! Word GROOT! Jy is DOOD!”
***
Water staan voor die speelskool se hek en kyk hoe Krummel aan gehardloop kom, sy Superman hempie dra hy nou al die hele week.
“Mamma, mamma! Raai wat? Ek het vandag ‘n maaitjie ryker geword. Sy naam is Sout. EN Mamma, hy hou ook van super heroes. Kan hy vanmiddag by my kom speel?”
“Natuurlik my kind. Sy mamma sal net eers moet instem.”
Water staar na haar klein bondeltjie vreugde. Hy is die enigste rede wat haar keer om in trane uit te bars.
***
“DOWN DOWN DOWN!!!!” slaan Botter op die tafel.
“Jy weet ek kan nie bier drink nie!”
“Barman, nog ‘n rondte!”
“Botter, hoe gaan ons by die huis kom?”
“Man, ons bel vir Meel of Water!”
“Hulle swot!”
“Vir daardie negatieweteid moet jy mý glas down!”
***
Meel was die skottelgoed. Haar hande word klonte in die seep.
“Botter, wil jy vanmiddag vir Water en Krummel gaan kuier?” haar stem weergalm deur die kombuis.
Stilte.
***
“Botter, wat van hoogtevrees verstaan jy nie?”
“Dit is nou te laat vir omdraai, jy sal moet spring?”
“Hoekom praat jy my altyd in die situasies in?”
“Sissie! Nou bly jy dan maar op die brug. One … two … three bungy.”
***
Water maak die deur oop. Die gesigte is sóós ‘n vloed oor haar hart.
“Bly om julle te sien.” haar trane lê vlak. Krummel, kýk wie het kom kuier. Kom stel vir Sout, JAMMER ek bedoel Iron man, voor. Hy het ‘n nuwe maaitjie.”
Stilte.
***
“Ek moet huis toe gaan.”
“O, mamma het jou op ‘n kort ketting.”
“Jy is nét jaloers!”
“Op wat?! ‘n Vrou?”
“Wanneer vra jy vir Meel om te trou?”
“Man, daar is nog baie tyd! Komaan, een vir die pad. Dan kyk ons of die Batmobile vir Spinderman kan weg ry.”
Die straatligte flits soos satelliete verby hulle. Die adrenalien is petrol vir die pret. Die draaie is die lekkerste. Daar is net een slag. Die volgende ligte wat flits is rooi en skree.
***
Water skink vir Meel ‘n koppie hartseer.
“Hoe gaan dit met jou?” vra Water terwyl sy die koppie aan Meel oorhandig.
“Ek kan nie meer nie! Hy is nie meer die sterk man waarop ek verlief geraak het nie. Tenminste het Brood met jou getrou.”
“Jy weet daar is plekke wat na Botter kan omsien.”
“Ek is nog steeds lief vir hom.” Meel se trane val op die vloer sóós iets deur ‘n sif.
“Ek weet, ek is steeds lief vir Brood. Ons was vanoggend by sy graf.”
“Ek is regtig jammer.”
“Dit was niemand se skuld nie. Tenminste weet ons nou Batman en Spiderman was nie meer as mens nie.” Water se trane stort in haar koppie terwyl sy deur die venster staar na ‘n resep vir genade.
Botter sit buite op die stoep. Die winterson gly teen sy vang en skitter teen sy rolstoel. Voor hom baljaar Superman en Iron Man op die klimraam.