Maandag
Elkeen van hierdie sjokolade koeke is verseker tydbomme, met die hele weeshuis se asems wat prewel van hartseer. Niemand het my ooit geleer hoe mens die plastiek só kry nie. Kom daarvan as jy meer tyd onder die paviljoene spandeer as in Juffrou Saartjie se klas. Ek wonder hoe gaan dit met Johannes? Bar-one was sy gunsteling. Elke koek bevat 20 stafies, genoeg brandewyn en twee koppies trane. Ek mis hom!
Dinsdag
Jy mis een donnerse biduur en hulle deel jou in saam met die koeksuster-kommissie. Almal oor sestig. Dink hulle ek is oor die muur? Fokkers gee in elk geval nie om nie, hou basaar maar nie ‘n sent bereik één sonder ‘n kombers nie. Vra jou nie eers of jou hand na laas jaar herstel het nie! Niemand kon die oorsaak vas stel nie, maar ek is blameer omdat ek nie my bril wou dra nie. Ek moet seker vir Helga bel, sy bewaar daardie resep soos goud. Mens sou sweer dit was haar ouma se geheime wapen om die konsentrasie te vlug. Ek moet by die bos kerk aansluit.
Woensdag
Ek is so trots op Monique, sy is definitief Klein Jaap se kind. Kan nie 1% van Rika in haar sien nie. Fliks, slim en ‘n ware entrepreneur. ‘n Jonger weergawe van my? Beslis. Sy sal eendag die ster bakster van die basaar wees, enige boer se droomvrou. Dit was haar idee om Marta se kinders in te span om te help klapperys maak. Hulle werk vir vyftig sent vir elke vyftig wat hulle bak. Hoop net nie hulle gebruik dit vir gom of spirits nie. Ek het Monique ‘n tiende van die totale verkope belowe, so sy slaan die sweep. Ek is so trots.
Donderdag
Die dag toe ek met Theuns trou, het skoonma my geleer dat mevrou Dominee net opdaag, smile en bietjie trifle eet. Maar nie op hierdie stukkie verlore aarde nie, hier gun niemand jou ‘n happie sonde nie. Ek sien so uit na Marietjie se trifle! Elke mondvol is ‘n drukkie vir die hart. Ek wonder hoe verwerk sy Buks se dood? Tragies, regtig! Ek het vir Theuns gesê Buks is allergies vir bye maar waar het jy nou gehoor van ‘n Dominee wat luister? Nee Buks moet die korf uit die kerktoring verwyder, hy is … was mos die koster. Waar is Rika se pannekoek resep, haar verwyte lê diep as jy nie die regte hoeveelheid Rum by die beslag gooi nie. Ek is nou lus vir trifle.
Vrydag
Ek kan nie glo hoeveel gemors een mens kan opgaar nie. Gun wonder hulle het die plaas verloor nie. Ons almal het gedink Issie het dit uit gesuip maar klaarblyklik is Grieta ‘n hoarder. Who knew? Eintlik moet ek nie kla nie. Sy maak eintlik die lewe vir my maklik, die goed gaan vlieg van die tombola tafel af. Dalk moet ek net eers vir my ‘n paar goedjies op sig neem. Is dit verkeerd? Sy het meer as genoeg en die spul gaan in elk geval nie ‘n Martini stel waardeer nie. Ek is nou dors!
Saterdag
Elke jaar waarsku die konsistorie my om die dames met ‘n ysterhand te stuur, maar ‘n eersteklas kaartjie na die poorte vir die een wat hulle in toom kan hou. Ons maak eintlik geen wins nie maar dit hou hulle besig terwyl ons rugby op Loftus kyk. Snaaks dat hulle teen die tyd nog nie besef daar is geen man by die basaar nie. Nie heeltemal waar nie, Stoffel is daar, maar hy tel nie. Hy sal die wors braai en ‘n ogie hou op die kinders in die springkasteel. Ek sal vir hom moet bid.
Sondag
Ja nee kyk! Dit sal jou leer om aan ‘n NG kerk te behoord en om te dink hulle het my bos kerk geoordeel. Daar is soveel weergawes, maar Lieda het gesê dit het begin by die tombola tafel. Grieta en Bibi het gestry oor ‘n Martini stel, gevul met die heilige gees stamp Grieta vir Bibi dat sy deur die lug trek soos een wat vir goud gaan by olimpiese spele. Met al die chaos hou Joey nie ‘n oog op die pannekoek nie en die olie vat vlam. Neeltjie probeer toe die vlamme smoor met Fransie se lelike doilies, maar sy het nie besef dit is van Spar en Checkers sakkies gemaak nie. Die hele pannekoek tafel asook Petro se koeksuster tafel was binne vyf sekondes aan die brand. Lizzie, die enigste een wie se noodhulp sertifikaat hernu is na laas jaar se basaar was so besig om Jaap se jongste af te stry oor ‘n blokkie klapperys dat sy nie eers vir mevrou dominee sien verstuk in haar trifle nie. Beide moet dalk hulle Weigh-less lidmaatskap kanselleer. Stoffel was in die springkasteel. Die wors was die jaar weer verkool.
Hele saal was vernietig in 10 minute. Brandweer is seker nou nog op pad. Hierdie land gaan so agter uit! Ek is net dankbaar vir Hettie se legendariese Bar-one sjokolade koek wat sy Vrydag afgelewer het. Ek moet haar bel om dankie te sê.